Wat is jou werk vandag?

Maandag is dit weer back to the salt mines soos die engelsman sal sê. Oor die afgelope paar maande het ek ‘n absolute afsku in my werk ervaar. Ek was oormoeg, uitgebrand, en keelvol vir ander mense se ondermyning en onderdrukking. My werksplek was ‘n plek van ligloosheid en donkerte; en ek het net besluit dat ek, Andorize, nie my lewe onder sulke omstandighede wil uitleef nie. Dus het ek gaan sit en vir myself ‘n vyf jaar plan uitgewerk. In hierdie vyf jaar gaan ek myself bekwaam met studies en opleiding terwyl ek nog ‘n salaris verdien; sodat ek iets met my lewe kan doen wat ek graag wil doen; en wat ek graag wil doen is om ander mense te help. Ek weet nog nie hoe en waar nie; maar ek wil gereed wees wanneer die deur oopgaan en die geleentheid oor my pad kom.

Maar soos met alle planne wat ons maak is dit wys om Salomo se raad te volg en die Here te raadpleeg oor ons planne; want net Hy weet wat die motivering en dryfkrag agter ons planne is.

Maar hier is nog ‘n geheim. In God se boekrol, wat nie hier op aarde gepubliseer is nie maar daar in die hemel, word ons by die naam genoem; spesifiek aangewys vir ‘n sekere taak, soos byvoorbeeld “Heman, Jedutun en die ander wat spesifiek aangewys is om die Here se lof te besing” in 1 Kronieke 16. Jedutun se seuns was die hekwagte. Sedok en die ander priesters moes by die tent gebly het. Asaf en sy mede Leviete was verantwoordelik vir die diens by die verbondsark. Elke een was aangewys vir ‘n spesifieke taak; en elke een word by die naam genoem.

Wat is jou taak vandag? Dink daaroor. Jy is gekies vir spesifiek daardie taak; en jou naam staan so in God se boekrol opgeskryf. Selfs al is jy siek en hulpeloos kan jy doen wat die diensknegte van ouds doen en God se lof besing “want Sy liefde hou vir altyd aan en aan.”

Dis so maklik om moedeloos te raak en te verslap; maar daar is ‘n goeie stryd om te stry tot die einde toe en daar is oorwinning te verkry. So daardie plek waar ons ons tans bevind, dit is vir ons spesifiek so aangewys vir hierdie tyd en era van ons lewens. Dit staan so op ons betaalstate aangeteken: nie net hier nie maar ook daarbo waar alles vir ons reeds gekonsolideer is.

Wat is jou werk? Om siek mense te versorg? Om kinders op te pas? Om kos te maak, skoon te maak, reg te maak? Werk jy in ‘n kantoor of ‘n winkel of ‘n fabriek? Doen jy die honderd klein dingetjies wat elke dag bring?

Voel jy ook soms, en vra jy jouself, waarvoor doen ek dit? Waarvoor sloof ek my af? Wat is die doel van dit alles? Mag die eenvoudige antwoord dan in ons elkeen se harte weerklink: my werk is vir die Koning. Wat ek ookal doen, sal ek van harte doen soos vir die Here en nie vir mense nie.

For the quiet joy of duty

Praise, praise I sing

For the commonplace and lowly

Set with pleasure high and holy

In each unromantic thing

Praise, praise to Thee, my King!

Advertisements

Die seën en vreugdes van werk

Ek is geseën met ‘n goeie werk. Toe ek in Augustus 2016 hier begin het, was ek in die diep kant gegooi. Alles en almal was vreemd en dit het my ongeveer 6 maande geneem om alles onder die knie te kry (dankie tog vir 6 maande probasies!) Iemand het eendag ‘n opmerking gemaak dat ek gelukkig was omdat ek as ‘n blanke vrou toegelaat was, al is dit net op kontrak basis. Maar ek dink nie ek was “gelukkig” nie, ek sien myself as geseënd: Geseënd omdat ek die regte mense op die regte tyd en op die regte plek leer ken het; geseënd met talente en vermoëns wat my in staat stel om die werk te kan doen; geseënd met ‘n gesonde verstand om elke dag meer te kan leer en om verder te kan studeer; geseënd omdat my werknemers en kollegas my regverdig behandel en respekteer.

Elke een van hulle, in hul uniekheid, is ‘n bron van inspirasie en ondersteuning. ‘n Mens werk nie vir eer en erkenning nie, tog is dit belonend wanneer jou harde werk raakgesien word….

….of wanneer jy onthou word in die feesgety wanneer almal met verlof gaan en jy deel is van die skeleton span wat oor vakansietyd werk.

DSC_0001_5

Hoog en laag, ek is geseënd omdat ek nie net maai nie, maar ook kan saai. Nie omdat ek dit enigsins verdien nie, maar alleen uit genade en guns van Bo.

Mag jy ook in die ongeveer 86400 sekondes van elke dag besef hoe geseënd jy is!

Xxx

 

 

Dis nou of nooit

Vandag het die werk ‘n bom laat val dat die begroting vir my pos goedgekeur is vir ‘n permanente pos. Die pos is in Aug 2016 geskep as ‘n fixed term contract en ek was bevoorreg om die pos as ‘n tydelike werker te beklee, ek kon alles leer wat ek moes en ek kon ook my stempel afdruk en ‘n verskil maak. My departement worstel al vir ‘n geruime tyd om die pos permanent te maak so dit is goeie nuus dat dit wel uiteindelik goedgekeur is…. Die probleem is egter dat dit intern geadverteer gaan word so ek moet nou oor aansoek doen en weer vir ‘n onderhoud gaan. Ek staan ‘n kans so goed soos enige iemand anders, daar is geen waarborg dat ek hierdie keer suksesvol gaan wees nie. So ek is nogal benoud want daar is ‘n paar dinge wat teen my tel, onder andere my velkleur. Hierdie is maar een van talle polities-georiënteerde organisasies….

Onsekerheid is ‘n aaklige ding en ek is seker dat dit meeste van die tyd ongegrond is. Vir my voel dit of my werk skielik in gevaar is. Mens weet nooit het jy rede om bekommerd te wees nie.

Ek reken dis nou die regte tyd om van my hoë perdjie af te klim en uit my gemaksone wakker te skrik. Weet, ‘n mens kan sooooo gou té selfversekerd, selfvoldaan en verwaand raak, en so sus jy jouself vas aan die slaap. Hierdie was ‘n wake up call dat ek niks is en niks kan doen sonder die Here nie. As dit Sy wil is dat ek hier bly, dan glo en vertrou ek dat Hy my werk veilig sal hou. As Hy egter ander planne vir my het, dan bid ek dat Hy vir my daardie deur sal oopmaak en my gereed sal maak om daardeur te loop.

Wanneer laas het jy vertrou dat alles sal uitwerk volgens Sy doel en plan vir jou lewe?

Xxx

 

Sommer net

Na my laaste plasing tot nou toe beleef ek erge skrywersblok. My verstand voel so toe soos ‘n klei-os se agterstewe. As ek saans so deur almal se blogs blaai en deurlees dan wens ek ek was minder ernstig en perfeksionisties en “beskaafd”. Ek wens ek het die vermoë gehad om soos ander bloggers sommer net enige iets oor enige iets te kan skryf. Sommer oor alledaagse dinge. Sonder om te wonder of dit ‘n gewigtige betekenis sal dra, sonder om dit honderd maal oor en oor te lees om te kyk hoeveel foute ek gemaak het, of ek nie dalk op iemand se tone trap nie…. Dis sieldodend! Want ek kan enige tyd van die dag met myself ‘n gesprek in my kop voer asof dit uit die mode gaan, maar wanneer ek die gedagtes wil neerpen op papier slaan ek toe. Dan vind ek skielik nie die regte woorde om neer te pen nie, en alles wat ek skryf lyk so afgewater. Hoekom, vra ek myself?

Hoe simpel kan ‘n mens wees!!

Daarby kan ek seker ook die werk blameer. Vir die afgelope paar weke is ek dun gerek van al die werk. Oorwerk, oormoeg, uitgebrand. Ek kan nie meer lekker dink nie. Hoe sê daai een gesegde? Ek is so moeg, tot my moeg is moeg! Nou dis hoe moeg ek is. Ek het nou die aand lê en dink, is dit hoe my lewe moet gaan? Werk toe en terug. Mens kom moeg in die aande by die huis, maak kos, maak skoon, stort, en slaap. Dag na dag. Oor en oor. Lewe by mekaar verby. Dit is regtig soos Salomo gesê het, alles net ‘n gejaag na wind. Dit put my uit.

En dan weet ek nou nog nie wat met my kontrak gaan gebeur nie. Ek het nog nie eers die nuwe kontrak geteken nie – en die 6 maande is amper weer verby! Iewers in die pyplyn is daar ‘n motivering vir ‘n permanente aanstelling, maar dit kom ook nie tot uitsluitsel nie. Soveel van ongeorganiseerdheid en diskriminasie het ek nog nie teëgekom nie. My kollegas word vir opleiding in Johannesburg gestuur. Waar sit ek? Net hier vasgekluister. Want dis hoe dinge rol. Maatjies sorg vir maatjies, en die res van ons veg vir oorlewing.

Maar buiten die werk het ons so ‘n klomp probleme met die woonstel gehad. As dit nie die stort se drein is wat verstop nie is dit die  kragmeter wat foutief is en kan ons nie krag oplaai nie. Die een plug na die ander blaas of smelt. As die stoof aan is kan ons nie die ketel aansit nie. Die verwarmer en die mikrogolf kan nie gelykertyd werk nie.  My stiefpa (wat ‘n gesertifiseerde elektrisiën is) sê die ou wat die bedrading gedoen het, het nie ‘n benul gehad wat hy doen nie. En waar is diegene wat eintlik verantwoordelik gehou moet word? MIA. Missing In Action. As dit nie vir Riaan was wat alles van alles af geweet het en reggemaak het nie (op ons onkostes, I’ll have you know), weet ek nie hoe sou ons gemaak het nie. Stort se drein reggemaak. Kragboks uitgesorteer (na erge dreigemente aan die munisipaliteit). Hulle het tot vir ons ‘n vergoeding van 350 eenhede gegee vir al die ongerief! Bid jou dit aan.

Gepraat van die munisipaliteit, hier staak hulle weer. Postmasburg lyk soos ‘n hool. Rommel is oral in die dorp rondgestrooi. In die strate, op die sypaadjies, voor die winkels se deure. Dan steek hulle nog daai groot staaldromme ook aan die brand. Dit stink, dis vuil, dis vieslik. Mens sal ‘n siekte optel. Elke dag moet jy hoop en bid iemand gooi nie jou voertuig met ‘n klip nie. Want dis wat hulle doen. Hulle trek sommer los en gooi klippe of glasbottels. Net wat hulle in die hande kan kry. Kan iemand nie net ‘n bom daar gaan drop nie?!! Of ‘n skerpskutter kry om al die gemors van ontslae te raak nie!

Dankie tog, dis more Vrydag! Sleepvoet het die week darem ook amper sy dinges gesien. Saterdag gaan ons bietjie Kimberley toe vir hare sny en inkopies. Dalk gou ook ‘n fliek inwerk. Sondag het ek afgevat van die orrel speel. Dit raak ook soms te veel.. Want dis al ander dag wat ek het om te rus, en ‘n naweek is net so lank! Maar ek kry nog nie moed om heeltemal te bedank van die orrel speel nie, dis nog ‘n innerlike debatvoering.

En na al die sinnelose skrywe gaan ek my rekenaar afsit en Big Bang Theory en Friends kyk tot my oë wil toeval. Want dis my ontspanning saans na werk, wanneer ek rustig kan gaan sit en hekel met ligte komedie op tv wat my kan entertain. Ek weet nie hoe mense nog saans na dramabelaaide sepies kan kyk nie. Ek sal totaal depro raak.  So na tv gaan ek  ‘n paar bladsye lees uit ‘n nuwe e-boek wat ek aangeskaf het, The Science of God. Nou DIT is ‘n goeie manier om die dag af te sluit.   Dit voel of ek vir ewig deur die skrywer se brein kan rondkrap!  En niks te worrie oor die dag van môre nie. Want elke dag sorg vir homself.

Xxx