Hoe lief jy jouself??

Dis Valentynsdag en dis die maand van liefde; en wanneer ons van ons kinders afgesny is, het ons al die liefde nodig wat ons kan kry!

For people who have been badly hurt, love seems a long way away.

Dis nie selfsugtig om jouself lief te hê nie. Ons weet nie altyd hoe nie, maar daar is maniere….

Kyk goed na jouself en pas jouself op

Wees medelydend en geduldig met jouself

Weet waar lê jou sterkte in tye van teenspoed

Wees teenwoordig in elke oomblik, moenie dat die lewe verby jou gaan nie

Deel elke dag ‘n bietjie geluk uit

Herinner jouself dat dit beter is om te gee as om te ontvang

En vier die liefde!

Gelukkige Valentynsdag vir almal!

Veral aan die Mammas, Pappas, Oumas en Oupas wat afgesny is van hul kinders en kleinkinders. Baie liefde vir julle xxx

Advertisements

En toe ontdek ek Mamma-Luv

My nuwe blognaam en adres. Iets wat ek die afgelope paar jaar sterk aan die hart gevoel het, maar nie moed gehad het om op te diep en die hand op te lê nie. Dit gaan maar oor die oneer en skaamte van die saak; die emosionele ondraaglikheid en die stigmas daaraan verbonde. Ek wou nooit rêrig daaroor gepraat het nie, juis omdat dit ‘n vreugdelose en moedverlore affêre is; maar ná die terugslag in 2018, het ek besluit om hierdie jaar – ten spyte van liggaamlike en geestelike ongesteldheid – ‘n meesterlike jaar maak.

So het my jongste ook gematrikuleer en ek verneem dat sy ook oppad is na die buiteland. Ousus is ook daar; en in my geestesoog sien ek die wêreld om hulle bedek onder ‘n sagte sneeukombers. Weg is die modderspore en kronkelpaaie wat na nêrens lei…. Weggevee die deurkliefde groewe van hoekoms en waaroms en ‘wat as’. En op hierdie witskoon, skilderagtige landskap, die tekens van voetpaaie wat hulle vir hulself gaan oopkap. ‘n Vars begin. En ek weet in my hart hulle is gereed.

Ek ook.

Die briefies wat my dogters vir my geskryf het toe hulle jonger en nog by my was, lees ek baie maal oor en oor en ek besef net, hey, ek IS ‘n Mamma en daar was ‘n tyd toe ek en my dogters baie ná aan mekaar was; ‘n tyd toe hulle vir my ook lief was en ek die beste Mamma in hulle wêreld was. Dis deel van my lewe wat niks en niemand kan wegvee nie, so ja, ek is Mamma-luv. I am loved! Ek het nog ‘n jaar en nog ‘n Kersfees deurgeworstel en oorleef. Dis elke jaar ‘n steil opdraande, maar ‘n mens leer, wanneer jy eventueel bo uitkom, om die uitsig na die anderkant toe te waardeer.

Soms is dit goed om verwagtinge te laat vaar. En skuldgevoelens. Ek kon dalk probeer het om meer gereeld uit te reik, maar ek het darem probeer. Op my manier, en in my onkunde. Ek los gelukwensings vir hul verjaarsdae op my blog. Tog elke keer wat ek op een of ander manier kommunikeer, kry ek slae – en dit maak seer. But love knows what to do. Dis beter om die twis te laat vaar, en die siel te behou.

‘n Ma wéét. Haar liefde is geduldig.

Xxx

Nóú is die tyd!

Ons was verlede week geweldig besig met ‘n “stop vir veiligheid” veldtog by die myn. Dit het geleentheid vir lynbestuurders en motiveringsprekers gebied om werkers opnuut bewus te maak om veilig te werk – #Safety is in your hands. Make every moment count.#

Soos ek sê, dit was ‘n besige week en daar was nie tyd vir ander dinge nie. Alle fokus en aandag en tyd was op hierdie veldtog toegespits…. Toe kry ons die tyding dat Riaan se ouma, aan wie hy baie na was, skielik siek geraak en Vrydag oorlede is. Sy word Vrydag wat kom begrawe. Ons vlieg Woensdagmiddag uit.

My ma se oogoperasie is vir Dinsdagmiddag in Kimberley geskeduleer. Ek weet nie of sy dalk sal moet oorbly of hoe laat hulle Dinsdagaand tuis gaan wees nie, maar ek moet reg wees om dalk plaastoe te ry na werk om te help met die diere se kosgee.

So, op heel ander vlakke, berei ek myself voor vir nog ‘n besige en deurmekaar week. Dis nie nou die tyd om geestelik anoreksies en emosioneel selfsugtig te wees nie!

In al die opgetekende geskiedenis is ek en jy strategies geplaas deur God – op hierdie spesifieke plek en tyd – want Hy het mense soos ek en jy nodig.

Gló jy dit? Ja, ek weet ons voel soms gebrekkig aan vermoëns. Die duiwel sê vir ons ons is misrabellik en mislukkings in vele opsigte, maar gló ons dit? Stellig nie!

Nóú is die tyd om ongeliefdes lief te hê; om vreugde te bring as dit koud en donker is; om vrede te openbaar in verwarrende situasies; om vriendelik te wees in ‘n onvriendelike, verwoestende, wrede kultuur; om optimisties te wees in frustrerende omstandighede; om te hoop – en hoop te gee – wanneer daar geen rede vir hoop is nie; om geduldig te wees met hardkoppige en humeurige mense; om moedeloses en neerslagtiges op te tel; om treurendes te troos….

Die beste deel is dat ons niks hiervan in eie krag en perspektief te probeer doen nie. Die Here gee ons die nodige krag, insig en wysheid. Hy stuur ons waar Hy ons nodig het. Hy gee die regte woorde en hulpmiddels op die regte tyd. Hy gee “sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees” (Jes 61:3).

Ons lewens is nie ons eie nie, ons is God se vakmanskap…. As ons kies om dit te wees. Dit bly altyd ons keuse: gaan ons op ons manier leef, of op God se manier? Gaan ons Sy krag ontvang vir Sy plan en doel, of gaan ons met ons eie krag voort ploeter?

Nóú is die tyd. Is jy in?

IMG-20180119-WA0008

 

Nog ‘n blom!

DSC_0016

Groot was my opgewondenheid toe ek vanmiddag by die huis kom en ek sien die rooi bloeisels aan die vetplant. Ek LOVE rooi!! Vergete is die dag se dinge en terwyl ek na die rooi bloeisels kyk onthou ek skielik van iets wat ek die naweek raakgelees het:

Liefde is soos ‘n bloeisel wat blom wanneer die toestande gunstig is. Mens kan nie ‘n blom oop forseer sonder om dit seer te maak nie. So ook nie ‘n hart nie.

Xxx

Vir die moedelose moet daar liefde wees

___hopeless_dreamer____by_pure_poison89-d6e87s5Soms, as ‘n mens jou verdriet en ongeluk en onbarmhartige smart weeg, voel dit swaarder as al die sand van die see. Jy kan nie bid nie, jy het geen verwagtinge nie, jy voel net eenvoudig verpletter, hulpeloos in jouself. Jy kyk toe hoe geliefdes en vriende troueloos teenoor jou handel, hoe hul paaie kronkelend van jou af wegloop en heengaan. Jy bly alleen agter staan – beskaamd en teleurgesteld – want skielik is jy niks; uitgeloot soos ‘n weeskind en verhandel soos ‘n slaaf.

Dit is dán – wanneer jou siel soos ‘n opgedroogde spruit is, troebel en moedeloos – wanneer jy die liefde van God en van ware vriende ervaar; want “vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir Almagtige vaar.”1

Dit is dán wanneer jy leer om te swyg en stil te raak sodat God jou kan onderrig; jou kan verlos van jou smarte, en jou red uit die hand van jou teëstanders; want “in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.”2

Op ons lewenspad, teen die opdraandes en steiltes, hoogtes en laagtes, doof ons lampe soms uit. Ons soek die foute in ander uit en kyk die waardes mis; ons raak so behep met ander se lewens dat ons nalaat om ons eie te meet.

But the right Christian mind will seek for what it loves, and draw out of all dens and curves, and it will believe in its being, often when it cannot see it; and so it will lie lovingly over the faults and rough places of the human heart, as the snow from heaven does over the hard broken mountain rocks. ~John Ruskin

xxx

(volgens Job 6; 1Job 6:14; 2Job 6:17)

Hoe bedryf jy menseverhoudings?

Wanneer dit by alledaagse menseverhoudings kom, wat vorm die basis van jou bedrystelsel? Hoe opereer jy?

My persoonlike bedryfstelsel werk so: Ek het nie ‘n saak wat ander mense van my dink of sê nie. Voorheen was ek ‘n glorified people’s pleaser. Vandag het ek my identiteit gevind in die vorm van ‘n siniese, apatiese kritikus. As mens dit te ver vat, kan die een kant so verkeerd wees soos die ander kant. Een lei na ‘n ongesonde trots en sin van onafhanklikheid…. die ander kant tot die gevolg dat jy mense aanhang en verafgod.

Paulus sê ons moet bedag wees daarop om eerbaar op te tree – voor God en voor mense1 so ‘n mens moet maar jou optrede teenoor ander evalueer en dink hoe ander jou optrede interpreteer.

Ons kry daagliks met situasies te doen waar ons teenkanting en opposisie ervaar. Situasies waar ons gemoedstoestand deur ander se optrede bepaal word. Ek het ‘n motto wat sê: “My reaction is based on how you treat me.” Maar ek vergeet dikwels dat ek ook kan seermaak en beledig en aanstoot gee.

Wanneer is ons té waaksaam?

Hoe keer ons dat ons nie soos robotte voortgedryf en gemotiveer word deur ander mense se eise, begeertes en persoonlike agendas nie?

Wanneer daag ons ander mense se optrede uit in plaas van om op eiers rondom hulle te loop?

Die antwoorde op hierdie vrae verg ongelooflike wysheid, en die wyse Salomo het geskryf:

“Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Koester dit soos iets waardevols wat jy om jou nek dra. Skryf dit op die tafel van jou hart. Jy sal guns vind by God en by mense.”2

Ons optrede moet dus gemotiveer word deur liefde, gegrond in waarheid. Dit gaan nie noodwendig ‘n vreedsame atmosfeer waarborg nie, en omdat ons net mens is, is dit nie altyd maklik om hierdie beginsel elke dag suksesvol uit te voer nie.

Die Here alleen weet, ek self skiet baie ver tekort. Maar as ek my daarop gaan fokus om my bedryfstelsel elke dag te probeer bou op liefde en waarheid, en na wysheid en leiding te soek in elke situasie, kan ek verseker weet dat God my sal help juis in elke gebied waarin ek faal.

  • 2 Kor 8:21

  • Spr 3:3-4