En toe ontdek ek Mamma-Luv

My nuwe blognaam en adres. Iets wat ek die afgelope paar jaar sterk aan die hart gevoel het, maar nie moed gehad het om op te diep en die hand op te lê nie. Dit gaan maar oor die oneer en skaamte van die saak; die emosionele ondraaglikheid en die stigmas daaraan verbonde. Ek wou nooit rêrig daaroor gepraat het nie, juis omdat dit ‘n vreugdelose en moedverlore affêre is; maar ná die terugslag in 2018, het ek besluit om hierdie jaar – ten spyte van liggaamlike en geestelike ongesteldheid – ‘n meesterlike jaar maak.

So het my jongste ook gematrikuleer en ek verneem dat sy ook oppad is na die buiteland. Ousus is ook daar; en in my geestesoog sien ek die wêreld om hulle bedek onder ‘n sagte sneeukombers. Weg is die modderspore en kronkelpaaie wat na nêrens lei…. Weggevee die deurkliefde groewe van hoekoms en waaroms en ‘wat as’. En op hierdie witskoon, skilderagtige landskap, die tekens van voetpaaie wat hulle vir hulself gaan oopkap. ‘n Vars begin. En ek weet in my hart hulle is gereed.

Ek ook.

Die briefies wat my dogters vir my geskryf het toe hulle jonger en nog by my was, lees ek baie maal oor en oor en ek besef net, hey, ek IS ‘n Mamma en daar was ‘n tyd toe ek en my dogters baie ná aan mekaar was; ‘n tyd toe hulle vir my ook lief was en ek die beste Mamma in hulle wêreld was. Dis deel van my lewe wat niks en niemand kan wegvee nie, so ja, ek is Mamma-luv. I am loved! Ek het nog ‘n jaar en nog ‘n Kersfees deurgeworstel en oorleef. Dis elke jaar ‘n steil opdraande, maar ‘n mens leer, wanneer jy eventueel bo uitkom, om die uitsig na die anderkant toe te waardeer.

Soms is dit goed om verwagtinge te laat vaar. En skuldgevoelens. Ek kon dalk probeer het om meer gereeld uit te reik, maar ek het darem probeer. Op my manier, en in my onkunde. Ek los gelukwensings vir hul verjaarsdae op my blog. Tog elke keer wat ek op een of ander manier kommunikeer, kry ek slae – en dit maak seer. But love knows what to do. Dis beter om die twis te laat vaar, en die siel te behou.

‘n Ma wéét. Haar liefde is geduldig.

Xxx

Advertisements

Vir die moedelose moet daar liefde wees

___hopeless_dreamer____by_pure_poison89-d6e87s5Soms, as ‘n mens jou verdriet en ongeluk en onbarmhartige smart weeg, voel dit swaarder as al die sand van die see. Jy kan nie bid nie, jy het geen verwagtinge nie, jy voel net eenvoudig verpletter, hulpeloos in jouself. Jy kyk toe hoe geliefdes en vriende troueloos teenoor jou handel, hoe hul paaie kronkelend van jou af wegloop en heengaan. Jy bly alleen agter staan – beskaamd en teleurgesteld – want skielik is jy niks; uitgeloot soos ‘n weeskind en verhandel soos ‘n slaaf.

Dit is dán – wanneer jou siel soos ‘n opgedroogde spruit is, troebel en moedeloos – wanneer jy die liefde van God en van ware vriende ervaar; want “vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir Almagtige vaar.”1

Dit is dán wanneer jy leer om te swyg en stil te raak sodat God jou kan onderrig; jou kan verlos van jou smarte, en jou red uit die hand van jou teëstanders; want “in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.”2

Op ons lewenspad, teen die opdraandes en steiltes, hoogtes en laagtes, doof ons lampe soms uit. Ons soek die foute in ander uit en kyk die waardes mis; ons raak so behep met ander se lewens dat ons nalaat om ons eie te meet.

But the right Christian mind will seek for what it loves, and draw out of all dens and curves, and it will believe in its being, often when it cannot see it; and so it will lie lovingly over the faults and rough places of the human heart, as the snow from heaven does over the hard broken mountain rocks. ~John Ruskin

xxx

(volgens Job 6; 1Job 6:14; 2Job 6:17)

Dit is wel

Ongelukkig het ek nie groen vingers soos my ma nie. In die verlede het plante by my gevrek en niks wou groei nie. Selfs die kaktusse het dit nie gemaak nie. So ‘n paar maande gelede het ek vir my ‘n paar klein huisplantjies aangeskaf en wonder bo wonder leef hulle nog! Ek het mos nou geen kind of kraai wat ek kan vertroetel of versorg nie, so die plantjies het op ‘n goeie tyd gekom. Nou is my ma besig om vir my groter potplante aan te ry van die plaas af, sy sê sy gaan nie met al haar plante see toe trek nie. Soos met mense se name is ek baie swak met plantname, so ek weet nie watter plant moet in die son en watter plant in die skaduwee moet staan nie. Ma het my gesê maar dit het by my uitgewaai. As ek sukkel sal ek maar ‘n foto neem en vir haar whatsapp dat sy instruksies kan gee. Ek is so opgewonde soos ‘n kind met nuwe speelgoed! Met my nuwe gieter en handskoene en tuingereedskap gaan ek net môre begin om aan my tuintjie te werk, en iets uit niks probeer maak. Ek voel dit net aan my dat die keer sal hulle oorleef. Alles sal okei wees….

….wat my laat dink aan wat Romeine 8:28 sê, dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Nie ‘n Polyanna-uitkyk op die lewe dat alles in die lewe “happy-go-lucky” gaan uitdraai vir ons onthalwe nie, maar dat Hy wat by magte is om alles te doen en vir wie niks onuitvoerbaar is nie, ook by my is – en by my dogters. Alles sal okei wees. Ten spyte van ons huidige situasie; watookal oor my pad en oor hulle lewenspad vorentoe mag kom – prys die Heer, dit is wel met my siel!

As vrede my pad deur die wêreld verlig
As smarte my dreig te verniel
Dan antwoord ek vry, watter lot my ook tref
Dit is wel, dit is wel met my siel!

Dit is wel, met my siel
Dit is wel, dit is wel
Met my siel

Hoe fel die besoeking, hoe Satan ook trag
Om my te vertrap met sy hiel
Steeds gryp ek weer moed, want my Heiland is daar
En Hy stort nuwe krag in my siel

Dit is wel, met my siel
Dit is wel, dit is wel
Met my siel

 

Tweede kans

Die meeste van ons glo dat elke mens ‘n tweede kans verdien. Ek persoonlik is baie hard op myself en op ander mense. Ek gee nie sommer tweede kanse nie. As jy my eenmaal teleurgestel of seergemaak het, is dit verby. Ek sny jou af soos ‘n dooie tak. Seker omdat ek al te veel in my lewe seergemaak is en omdat my kinders hulle van my vervreem het en redeneer dat ek nie ‘n tweede kans verdien nie. Dit maak ‘n mens seer en jy verhard jou hart – nie om ander terug seer te maak nie, maar om jouself te beskerm teen nog verdere seer in die lewe.

Ek erken dat ek deur ‘n slegte tyd in my lewe gegaan en die pad byster geraak het. Ek was ontrou teenoor myself, my dogters, en teenoor God. En soms moet die Here ‘n mens op ‘n plek in jou lewe bring waar jy besef jy is nou heeltemal van die pad af.

Het jy al deur so iets gegaan?

Ek dink byvoorbeeld aan Jona, ‘n profeet van God wat besluit het hy wil nie vir God luister en gaan profeteer nie. Jona moes in opdrag van God ‘n boodskap aan Nineve gaan oordra om hulle te waarsku dat God hulle sou vernietig as hulle hul nie bekeer van hul verkeerde weë nie. Jona se hart was hard teenoor die mense van Nineve. Hy het nie omgegee of hulle hul bekeer of nie. So, in plaas van om na Nineve te gaan, spring hy eerder op ‘n boot en foeter in die teenoorgestelde rigting in. Jy ken die res van sy storie. Hy word deur ‘n groot vis ingesluk en spandeer dae in die vis se maag waar hy oor sy doen en late nadink.

Daar kom altyd ‘n tyd en ‘n plek in ‘n mens se lewe waar jy nie anders kan as om te luister nie. Watter omstandighede moet plaasvind vir ons om te luister en te doen wat reg is? Vir my was die vervreemding van my kinders ‘n groot wake-up call. Dit het my tot stilstand geruk. Vir Jona was sy wake-up call in ‘n vis se maag want hy was God se profeet wat 120,000 mense moes gaan red het en hy wou nie. Hy was deur God gekies om deur God gebruik te word…. en God het nie moed opgegee met Jona nie.

Is dit nie vertroostend nie? God gee nooit moed op met ons nie.

Vandag, 6 jaar later sedert die vervreemding, meer as ooit, verstaan en glo ek dat God ons ongehoorsame harte verstaan. Hy sien ons vir wie ons regtig is…. en tog gee Hy ons ‘n tweede kans. Hy het immers vir Jona ‘n tweede kans gegee. Hy het die mense van Nineve ‘n tweede kans gegee. Wat sê dit vir ons? Dat God spesialiseer in tweede kanse.

Het jy jou kanse geblaas? Het jy iemand na aan jou diep teleurgestel? Haal diep asem en onthou: God is ‘n God van tweede kanse. Al wat ons moet doen is om ons afvalligheid te erken en dit te laat staan. Hy sal herstel. Hy sal genade gee…. Al gee ander dit nie. Hy vergeef wanneer ander nie wil vergewe nie.

Vra Hom.

Xxx

Aan Anike op haar 17e verjaardag

My liefste dogter,

DSCN3891

Daar is so baie dinge wat ek graag vir jou wil hê,
So baie wense vir jou wat ek vir jou in my hart koester.
Ek bid vir jou vir trots in die wete waar jy vandaan kom,
En vrede in die wete wie jy nou is.
Ek bid vir jou vir krag vir elke uitdaging,
En wysheid om die regte besluite te neem.
Ek bid vir jou vir tevredenheid as jy jou doelwitte bereik,
En vir vergenoegdheid in die eenvoudiger dinge van die lewe.

Baie geluk met jou verjaarsdag! Mag jy altyd onthou hoe oneindig lief ek jou het, en dat jy ‘n pragtige en unieke persoon is. Ek is trots om jou my dogter te kan noem.
Ek onthou dat Psalm 1 altyd jou gunsteling psalm was om te lees, en dit is my gebed vir jou op hierdie dag. Mag dit altyd in jou hart en gedagtes vasgebind wees.

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
Maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.
En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.
So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.
Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.
Want die Here ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.”

Love you to the moon and back,
Mamma xxx

Vir al die vervreemde mammas op moedersdag

Hoe moet moedersdag vir jou voel as jy ‘n ma is, maar jou kinders wil niks met jou te doen hê nie? Vir hulle is jy so goed soos dood; jou naam en bestaan uitgewis uit hul gedagtes. As lid van hierdie stam leef ek die revolusionêre realiteit.

Anna Jarvis was die stigter van moedersdag in 1914, ter ere aan alle moeders. Sy was self ‘n kinderlose tannie van baie niggies en nefies; en sy het moedersdag tot stand gebring om alle moeders te eer. Dit sluit in al die tannies en groottannies en oumas en peetma’s en vroue in die algemeen wat hul liefde en aandag vir kinders uitgiet wat nie hul eie is nie.

Om ‘n ma te wees en om moederlik te wees, is nie altyd dieselfde nie. Baba’s word gebore uit die baarmoeder. Moederlikheid word gebore uit die siel. Daar is baie maniere om ‘n ma te wees. Ek weet van ma’s wat kinders het, maar wat nie verdien om kinders te hê nie; wat ‘n klad op naam van moederskap is. Dan kry jy vroue wat met ‘n instinktiewe moederlikheid gebore is en ‘n hunkering en strewe na ‘n kindjie van haar eie het, maar nie kinders kan hê nie.

Almal kan ma’s wees, maar nie almal is moederlik nie.

Moedersdag sonder ons kinders bly maar ‘n swaar dag. Met al die moedersdag promosies en advertensies voel ‘n mens “uit” en “minder as”. Want moedersdag is ‘n harde realiteit dat ons wel eens op ‘n tyd die voorreg gehad het om moeders te kon wees. Vir my het moedersdag ‘n dag geword wat my leeg laat voel, onvolledig, hartseer, alleen, agtergelaat, onbelangrik, verwerp….

….Maar dis uit hierdie ervaring en uitkykpunt dat ek vir myself reminders begin neerskryf het, om my te herinner wie ek is en wie ek kan wees op hierdie dag en die dae wat voorlê soos die Here bepaal.

1) Die Merriam-Webster Dictionary definieer moederskap as: “om geboorte te gee”, “om te versorg en te beskerm”. Sinonieme hiervan is om te baar, genereer, aflewer, produseer…. Die idee hieragter is dat moederskap nie beperk is tot tyd en plek nie. Die Here het my goed genoeg geag om geboorte te skenk aan twee pragtige dogters. Hy het my ‘n moeder gemaak. Hy het my hulle moeder gemaak. Dis ‘n realiteit wat niemand ooit van my – of van hulle – sal kan wegvat nie. Al is ons wêrelde van mekaar geskei, ek is en bly hulle ma. Dis nie net ‘n geestelike feit nie, dis ook ‘n biologiese, wetenskaplike, en mediese feit.

2) Nie net is moederskap nie beperk tot tyd en plek nie, moederskap is nie beperk net tot kinders nie. Na die vervreemding het ek so apaties geword teenoor die samelewing, ek wou vir geen dier of mens of ding naby my omgee of sorg nie. Die skeiding / verwydering was te seer, tog het die hunkering om vir iets of iemand te sorg en om te gee, diep gesetel gebly.

Ek het by myself begin. Na myself begin kyk. Dr Phil het ‘n standpunt wat sê: “Take care of yourself before you take care of others.” Dis so waar. In die som van wat gebeur het, is ek immers die een wat agtergebly het. So ek het net myself oor. Sorg vir myself. Gee om vir myself. Geestelik, emosioneel, fisies.

Die wêreld het iemand soos ek nodig. Die werk het my nodig. My familie en vriende het my nodig. Ek verdien om goed te voel en goed te leef. Die Here het my ‘n moederlike kanaal gemaak waardeur Sy liefde en lig kan vloei. Ek kan nog steeds ‘n kanaal wees. Wanneer ‘n mens verlore en bemoeid voel, is die beste manier om na jou siel om te sien, om in “tune” te kom met die moederlikheid binne-in jouself – en moederlik te wees met jouself. Dis die moederlike wysheid en instink in ons wat ons kan vertrou, want dis die moeder in ons wat ons nooit sal verlaat of verwerp nie en wat altyd by ons bly.

3) Ons kry elke dag met mense te doen. Ek, wat ‘n privaat en teruggetrokke en afgesonderde mens is, het net een dag besef dat (of ek dit nou wil weet of nie), ek gee elke dag ‘n bietjie van myself vir die mense met wie ek te doen kry. Na die vervreemding het ek so baie teruggehou – liefde, deelname, betrokkenheid, toewyding…. omdat ek vasgeklou het aan verwyte en vrese. Ek was altyd ‘n gee-mens, maar die afgelope paar jaar sukkel ek daarmee omdat ek begin uitgeput en ontneem / beroof gevoel het. Emosioneel laat ek nie mense naby my toe nie, en ek raak ook nie emosioneel betrokke by ander mense nie.

Onder swaar boeie vasgevang en beperk sodat ek nie volle toegang het tot my vermoëns om te gee of te ontvang nie…. Nogtans kan ek van die bietjie gee wat ek het. Want God dra ons deur met ons min en al. En vir elke bietjie wat ek elke dag kan gee, kom dit veelvoudig terug. Net dit is genoeg om die gebreekte kruik stadig weer vol te begin maak.

4) Ek is bevoorreg en dankbaar dat ek nog my eie ma het om te eer op moedersdag. Sy wat deur dik en dun, deur goed en sleg, deur alles en nog wat by my gestaan het en nooit minder lief vir my was nie.

So, al is moedersdag vir my baie pynlik en nie ‘n baie positiewe dag nie, kan ek kies om hierdie dag op gelukkiger maniere te ervaar. Dit hoef nie net in die een vorm gevier te word waaraan ek altyd gewoond was nie, maar vanuit die donker leemtes kan ek dit transformeer na ‘n hoogtepunt wat die oorvloed van liefde en seën wat wel teenwoordig is in my lewe, te vier.

Laat jou moed, jou hoop, jou uitmuntendheid, jou medelye, jou geesdrif, jou intellek en jou mensliewendheid skyn en jy sal die wêreld verlig!

En vir al die wonderlike mamma’s daarbuite wat selfloos so baie van hulleself gee en opoffer, wil ek graag sê:

b479cda04089e2c3473a8aeb64a49f41

die klein dingetjies in die lewe

Ons word dikwels gebombardeer met boodskappe soos: “Dink groot”…. “gaan vir goud”…. “klim die leer van sukses”…. “reik na die sterre”…. En doen dit NOU! Klink bemoedigend, tog het ek al gevind dat wanneer ek hierdie raad volg, is ek geneig om vinnig uitgebrand, uitgeput, en onvoldoende te voel.

Hoekom? Wat is verkeerd daarmee om “groot te dink”?

(Ek verpes selfhelp boeke!)

Wel, inherent is dit nie verkeerd om groot te dink nie. Maar as jy glo dat “groot” beter as “klein” is…. om buite jou vermoë te gaan eerder as om dit rustig te vat…. om die beste te wees wat jy kan wees…. troef jy die beginsel om te waardeer wie jy is en dit is nie regverdig teenoor jou ware self nie.

Kom ons wees eerlik. Nie almal is bedoel om “groot” te wees nie. Nie almal hou daarvan om die heeltyd te multitask en mal besig te wees nie. Nie almal wil al hul energie mors om vir goud te gaan nie. Baie van ons waardeer meer die rooi, oranje, geel, groen, blou, en pers in die lewe. Kleure. Kontraste. ‘n Klomp dinge wat niks te doen het met groot gaan of bo uit kom nie. En dis nie noodwendig verkeerd nie. Natuurlik kan ons nie almal daar bo in die hoogtes wees nie. Nie almal wil daar wees nie. Want daarbo kan dit eensaam raak. Die lug raak dun. So daar is nêrens om heen te gaan behalwe ondertoe nie.

So, wat is so wonderlik oor die klein dingetjies in die lewe?

Dit is iets wat ek myself moes aanleer nadat my kinders uit die huis is. Na twee mislukte huwelike. Tydens werkloosheid…. Dis die klein dingetjies wat ons altyd sal onthou en waardeer wanneer ons op die verlede reflekteer. Soos ‘n braai saam met vriende. Inkopies saam met jou ma. Jou kinders se verspotte laggies en armpies om jou nek. Daai warm gevoel wat jy kry as jy iemand in nood help; as jy die lentebloeisels bewonder.

As mens nie die klein dingetjies geniet nie, wat bly dan vir ons oor behalwe die uitdagings en teleurstellings van die lewe wat op ons voorstoepe plop wanneer ons dit die minste verwag.

Die lewe bestaan uit oomblikke. Ons dink daaraan in terme van dae, weke, maande, jare. Maar die kern van die lewe is oomblikke. Ek wil nie dat my oomblikke bestaan uit die stres van alles op een slag probeer doen, of die goed wat ek nie gedoen kry nie…. of die teleurstelling in myself vir die dinge wat ek vergeet om te doen…. of mislukkings…. of mismoedigheid omdat dit voel of ek in ‘n groef vasgeval is.

Partykeer is dit nodig om ‘n kopskuif te maak en meer te begin fokus op die oomblik van nou. ‘n Mens trek te gou skouers op en sê: “Dit was ‘n slegte dag, niks wou uitwerk nie.” Selfs ‘n slegte ervaring het ‘n waardevolle oomblik daarin toegedraai…. as mens net ‘n bietjie dieper delf om dit raak te sien.

Ek los hierdie woorde vir my dogters: Let op die dinge wat julle doen. Moenie dat die konstante spervuur om “meer te doen” en “meer te wil hê” en “meer te wees” en die stryd om “goed genoeg te wees” julle beroof van die mooi en goeie oomblikke nie. xxx

johnwooden384652

Enter a caption