‘n Kat sonder naam

Ek weet nie of ek al voorheen genoem dat ons so 9 maande gelede na ‘n groter meenthuis toe getrek het nie? Dis ‘n baie ruim plek in vergelyking met waar ons eers was. 100% verbetering! En die lekkerste is: dit sit op die hoek, reg langs die kerk waar ek Sondae orrel speel, en aan die anderkant die ouetehuis. Stapafstand van Ouma af. Hoe gelukkig kan mens wees!

Nie lank nadat ons ingetrek het nie, het daar ‘n verwaarloosde en verhongerde kat by ons opgedaag. Ek was aanvanklik nie baie gretig om haar daar te hê nie, maar ek het my goeie plig gedoen om elke dag vir haar kos uit te sit. Nodeloos om te sê dit het haar nie lank gevat om deel van die huishouding te word nie.

Daar is nogal wetenskaplike voordele om ‘n troeteldier eienaar te wees; en een van dié wat vir my uitstaan is dat troeteldiere bekend is daarvoor om mense te help om deur verlies te werk, en om minder fisiese simptome van pyn te beleef. En dit is so, my kat is absoluut ‘n wonderlike steunpilaar deur moeilike tye. Honde doen dieselfde ook, as ek terugdink aan my dogter se bokser hond wat agtergebly het nadat sy weg is; hoe ek en Xenia ge’bond’ het, en hoe sy my ma emosioneel ondersteun het. Maar na haar dood het ek nie weer kans gesien vir ‘n troeteldier nie. Ek doen nie goed met verlies nie…. en tog, hier sit ek nou met die kat sonder ‘n naam, en ek kan nie my huis sonder haar voorstel nie. Sy het alles: liefde, erkentlikheid, ure van eindelose slaap, en geselskap wanneer sy dit nodig het.

Advertisements