Genade…. die menopouse!!

Oor die afgelope 6 maande ervaar ek die vreemdste goete…. warm gloede, slapelose nagte, buierigheid, huilerigheid…. en ek weet tot nou toe nie wat sit dit af nie.

“Vroutjie,” sê my huisdokter onlangs vir my; “jou FSH telling is 60.8. Normaal is om en by 30. Jy is voluit in jou menopouse.”

Hallo? Ek is 44 en ek het menopouse?!

Menopouse: Die Universele Ervaring

Jip. Iets waarvoor elke vrou geskape is om te ervaar. Tensy ‘n vrou nie prematuur sterf nie, sal sy deur menopouse gaan. Dis een van daardie fisiese elemente wat in ons vrouwees geweef is, te danke aan Eva. Ek is seker toe sy die eerste hap van daardie verbode vrug geneem het, het sy nie gedink aan fisiese en geestelike elemente wat nie altyd van mekaar geskei kan word nie! Nog minder aan iets soos menopouse!

Vir diegene wat nie weet nie: menopouse gaan gepaard met dinge soos onder andere warm gloede; gewigtoename; ongewenste hare in die gesig en ken area; buierigheid; depressie; hoofpyne en migraines; slapeloosheid; die onvermoë om te konsentreer; ‘n toenemende risiko vir hartsiektes en osteoporose; vergeetagtigheid; ‘n doodse moegheid…. Menopouse affekteer jou hele vrouwees – liggaamlik, verstandelik, en geestelik. In die geindustrialiseerde wêreld daarbuite gebeur menopouse gemiddeld op ouderdom 51 jaar, maar dit kan ook so vroeg begin as 40, of so laat as 58. In my geval het ek ‘n vroeë menopouse bereik omdat ek vroeg in my lewe ‘n histerektomie gehad het (op 27), en ek het nooit nodig gehad vir ‘n hormoonaanvulling nie. Tot nou toe.

Dis lekker om daaroor grappe te maak, natuurlik. Ons lag vir ons ma’s en vir ander vrouens wat in hul menopouses is, en meeste van die tyd lag hulle maar saam. Maar eintlik is daar niks om oor te lag nie. As mens eers in menopouse is, is dit nie meer snaaks nie. Dis ‘n saak van gebed. Soos my huisdokter vir my gesê het: “Jy gaan nog baie met die Here praat.”

Menopouse gebeur gewoonlik oor ‘n tydperk wanneer daar betekenisvolle veranderinge in ‘n vrou se lewe plaasvind: haar kinders gaan uit die huis uit; haar ouers raak dalk siek; sy keer terug na ‘n besige loopbaan; versorg haar kleinkinders; dalk tree haar man vroeg af…. Dit kan ‘n kombinasie van gebeure wees en daardie dinge is klaar moeilik genoeg om te hanteer. Nou is daar die ekstra komplikasies van emosionele en fisiese aspekte van menopouse wat ook nog bygevoeg word, wat dit ekstra moeilik maak…. PLUS die feit dat ons in ‘n vreeslik jeug-obsessiewe en jeug-georienteerde kultuur leef. Een ding oor menopouse is dat dit ons oë baie vinnig oopmaak vir onbenullighede rondom ons. Dis eintlik skrikwekkend. Ons besef ons word ouer. Realiteit. In ‘n kultuur wat nie altyd ouer mense en die oudword proses respekteer nie. Realiteit. So, ‘n mens kan nogal vinnig uit voeling raak met die samelewing, of erger, uitgeskuif word. Realiteit. Ek ervaar dit elke dag eerstehands by my werk. Ek is onder die vyf oudstes in ons departement; en ek is nou maar 44 jaar oud, bid jou dit aan! Mense wat jare jonger as ek is word in posisies bo my aangestel, ongeag of dit nou polities gedrewe aanstellings is of nie. Die punt bly, dis nie maklik om in ‘n maatskappy te werk waar nie net ander kulture en nasies, maar ook die jonger geslag, aan bewind staan nie. Net die politieke kwessies en die ouderdomsverskille alleen maak die werksplek geweldig demoraliserend. So, die stres van ouer word en die uitdagings van elke dag by die huis en werk word al hoe meer ‘n werklikheid – en op hierdie stadium van die geveg raak die stryd al hoe groter. Of nog erger: bitter.

Ek weet dit klink somber. Nes ‘n mens dink jy het die geestelike en emosionele stryd op ander gebiede gewen, dan kom die fisiese uitdagings, soos menopouse. Maar wat kan ons daaraan doen?

Eintlik baie.

Eerstens moet ons onthou – baie belangrik! – dat ons na God se ewebeeld gemaak is; en dat ons liggame deur Hom geskep is: kunstig geweef in die dieptes van die aarde (Ps. 139:15). Elke proses en fase waardeur die menslike liggaam gaan – selfs veroudering – is deel van Sy ontwerp. Niks is vir Hom vreemd of verborge nie.

U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie (Ps. 139:16)

Tweedens moet ons ook onthou dat Romeine 12:1-2 nie net vir jongmense bedoel was nie: gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Ons is nog steeds veronderstel om onsself vir Sy diens te offer – ten spyte van ons estrogeen vlakke! In Christus het ons alles wat ons nodig het vir die lewe en vir ‘n goddelike lewe. Maak nie saak hoe oud ons is nie: menopouse is nie ‘n verskoning om nie in God se diens te staan en ‘n verskil in die wêreld te maak nie. Dit is ook nie ‘n verskoning vir ons emosies om oor ons te heers nie. Om ouer te wees is eintlik ‘n wonderlike geleentheid vir diensbaarheid. Menopouse kan maak dat ons baie selfgefokus raak. Daarom is dit so belangrik om buite onsself te kyk en om te dien en te werk soos ons gesondheid dit toelaat (ons moet na onsself ook kyk voordat ons na ander mense kan omsien).

Derdens kan ons ingelig bly: om alles te leer oor wat om te verwag in hierdie tyd van ons lewens. Ons het nie beheer oor die veranderinge wat in ons liggame plaasvind nie, maar ons kan baie meer produktief wees as ons goed ingelig is en begryp waaroor die veranderinge gaan.

Vierdens kan ons gesond bly deur meer te fokus op gesond leef. Fokus minder op hoe ons liggame lyk, en meer op ons gesondheid in die algemeen. Bly aktief, eet gesond, kry ondersteuning, of bied ondersteuning.

En laastens, bly in God se Woord. Leer ken die Skepper van ons liggame soos Hy is, want dit help ons om onsself deur Sy oë te sien. Ons kan nie onsself leer ken of probeer verstaan sonder om Hom te leer ken nie. Ons het nodig om elke dag herinner te word aan God se getrouheid en liefde; sodat wanneer ons moeg en uitgeput raak, ons weet Wie ons bron van krag is. Hy sal die goeie werk wat Hy in ons begin het, enduit voer – ongeag van wat ons fisiese situasie is. Hy mag selfs die bittere stryd in hierdie tyd van ons lewens gebruik om ons te suiwer. Ons sal nooit weet nie, maar een ding is seker: menopouse is nie hier om ons dood te maak nie. Ja, die ongemaklikhede is nie aangenaam nie, maar soos in elke ander geval waar ons swak voel, is Hy daar. Ons is nie alleen nie.

So, vir elke mede-menopouser daarbuite wil ek net ‘n stywe drukkie stuur en sê: hou die lied in die hart!

In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde (Ps. 30:5)

xxx

Advertisements

Nog ‘n Grondpad-jaar

Ongeveer ses maande gelede het ek die pen neergesit en weggetree. Eintlik was dit my gesondheid wat my genoodsaak het om ‘n breek te vat; want skielik het dit op alle denkbare vlakke ‘n knou gekry en eenvoudig begin agteruit gaan. Die stryd is nie net meer emosioneel nie, dit het sielkundig en fisies ook geraak. Dominee het gisteroggend in sy preek genoem dat ons ons sorge, moeite en verdriet in ons liggame ook dra; tot so ‘n mate dat dit ons uiteindelik totaal ruïneer. Soos die ou spreekwoord sê, dis die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Dit was vir my geweldig moeilik, want as ek nie elke dag skryf nie dan verloor ek mos my kreatiewe mojo, of hoe? Dis tog wat meeste skrywers en kenners sê. Maar is dit gesonde raad, en geld dit vir almal??

Later daaroor (ek herkou nog hieraan….)

So, ten spyte van die gesondheid wat agteruit gegaan het, het die Here darem ook gesorg vir klein genadetjies (wat eintlik onbeskryflik groot is as ek daaraan dink). Daai regte goete wat op die regte tyd uit Sy hand kom; juis wanneer ons dit die nodigste het. Dinge wat help om die stres en die swarigheid en die hartseer van die lewe ‘n bietjie te verlig.

As ek terugkyk op 2018, dan was dit ‘n jaar wat ek nie wil oorhê nie. Ek onthou hoe ek slaggereed was om elke dag by die kraag aan te pak. Ek was eintlik heel oraait hoor, ek het alles onder beheer gehad. Of so het ek gedink. Tot ek een oggend opgestaan en besef, my fasade het verkrummel, ek is besig om onder te gaan.

Dit gebeur so dat, wanneer ons in die proses is om deur iets in ons lewens te werk en dit raak te moeilik of ondraaglik, dan gooi ons onsself totaal oor na ‘n ander aspek van ons lewens. In my geval, die werk. Maar ons vergeet om na die belangrikste aspek om te sien: onsself. Ek sien dit só. Wanneer ons selfone pap is dan prop ons dit vinnig by ‘n laaier in; maar wanneer ons krag min en ons lewensmoeg is, laat ons na om ook iewers te gaan inprop en te herlaai. Tot dit te laat is.

En hier staan ons aan die begin van nog ‘n grondpad-jaar waar ons dae gaan hê met mooi uitsigte, en dae wat ons weer kaalvoet oor die klippe gaan moet loop. Dae wanneer ons op ons knieë gaan neerval omdat ons nie kans sien vir die dag van môre nie…. En dae wanneer ons gaan rustig loop sonder dat ons hoef om te kyk of terug te draai. Dae van blomme pluk, en dae van dorings wat gaan steek.

Hoe jou jaar ookal vandag eindig, bid ek dat dit in 2019 vir jou oorvloedig sal reën waar jy ploeg, en dat jy elke seisoen méér sal hê as genoeg.

Voorspoedige nuwe jaar!!

Andorize xxx

Die Liggaams-eed

Ek beloof om te begin om my liggaam meer te waardeer en lief te hê – ongeag hoe ek voel en hoe ek lyk.

Ek sal ophou om negatief oor myself en my liggaam te praat en ek sal negatiewe gedagtes blokkeer en ignoreer. Nie alles wat ek oor myself dink of sê is waar nie.

Ek sal nie snedige aanmerkings maak oor hoe ander vrouens lyk of oor hulle liggaamsbou nie. Alle soorte liggaamsbou kan mooi wees as ‘n vrou gemaklik is met haarself en haarself aanvaar.

Ek beloof om mooi te kyk na myself; gesond te eet en gesond te leef.

Ek sal myself nie vergelyk met hoe ander vrouens lyk nie.

Ek sal my nie aan enige vorm van media steur nie. Hulle stel vals standaarde van hoe ‘n vrou behoort te lyk.

Ek beloof om meer te fokus op my sterk punte, wat ek bereik, en dat ek uniek is.

Ek beloof om nie so hard op myself en self-krities te wees nie. Wanneer ek ‘n fout maak, sal ek daaruit leer, dit agter my sit en aanbeweeg. Nie dae lank daaroor sit en tob nie.

Ek sal werk aan die minder goeie dinge in myself, maar ek hoef nie my persoonlikheid of my liggaam te verander vir enige iemand nie. Dié wat my nie aanvaar nie, is nie my vriendskap of geselskap of menswees werd nie!

Ek beloof om op te staan vir myself en vir ander wanneer ek lelike opmerkings hoor. Elke vrou verdien respek en liefde.

Ja, dit is U wat my gemaak het, ‘n mens wat kan voel en dink. U het my hele liggaam gemaak voordat ek gebore is. Psalms 139:13 ABA

Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen.

Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Psalms 139:14-15 DB

Die gedagte daaraan is heeltemal te groot om te verstaan, en ons hoef nie. Maar ons moet weet en aanvaar dat ons elkeen na God se hand en wil geskape is, tot in die fynste detail. Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor onsself en teenoor ander om ons liggame op te pas, geen skade aan te doen nie, en lief te hê. Dit is per slot van rekening nie ons eiendom nie, maar dit behoort aan Hom wat ons gemaak het. Mag ons ons liggame afsonder as instrumente in God se hand en tot Sy beskikking stel – van kop tot tone; al ons vermoëns – fisies en geestelik – en net doen wat Hy sê.

Xxx

Mens sana in corpore sano

“In a sound body rests a sound mind.”

So sê die wyses, en dis sooooo waar. Ek staan elke oggend half vyf op om vyfuur te gaan oefen. Elke aand voor slapenstyd spandeer ek tyd om my program vir die volgende dag uit te werk. Ek lééf daarvoor!

My voorkoms is vir my belangrik en hoe ouer mens word hoe moeiliker word dit om in “shape” te bly. Die lewe na 40 is nie vir sissies nie! Daarom glo ek dat ‘n mens se liggaam op een of ander wonderbaarlike wyse aan jou siel en verstand gekoppel is. As jy na jou liggaam kyk, is jou verstand ook helder en gesond.

Ek besef dit gaan lank vat om my doelwit te bereik, maar dit maak nie saak nie. Ek het nie ‘n wenstreep wat ek najaag nie, ek het ‘n leefstyl om te handhaaf.

Ons is gevoelsmense en ons kan nie goed doen as ons nie goed voel nie. Om tyd te maak vir jouself weg van die werk en weg van die gejaagdheid en weg van jou daaglikse roetine om op jouself te fokus is nie selfsugtig en selfgesentreerd nie. Dis absoluut essensieël, glo ek, en nooit ‘n mors van tyd en energie nie. Nooit! As my dag nie begin met fisiese oefeninge nie, kan ek maar weet ek gaan beneuk wees en minder produktief, minder kreatief en minder dinamies. Moenie my vra hoekom nie, dit is net so.

Elke mens het sy eie aktiwiteite en goedvoel resep, maak nie saak wat nie. Jy werk daarvoor. Verander jou leefstyl daarvoor. Jou eetgewoontes. Jy sweet daarvoor. Baie trane en sweet! Maar DIT IS DIE MOEITE WERD.

Ja, daar sal altyd mense wees wat gaan opmerkings maak. Mense by die werk het al vir my gesê ek is mal om so vroeg op te staan en dit om te gaan gim. “Vir wat?” vra hulle en kyk jou op en af asof jy van ‘n ander planeet af kom. Weet jy skat, ek mag mal wees, maar ek pluk die vrugte. En as ek die storie so kyk dan  lyk dit of jy ook kan doen met ‘n bietjie oefen!

Ek gaan gim toe want vir my is dit ‘n ontsnapping van ‘n besige roetine. Dis my “sanity” waar ek werk om nie net fisies sterk te word nie, maar ook geestelik en verstandelik.

Soos die NIKE advertensie sê: Just do it!

905af0379e93810ec1486338469b6e3e--inspirational-quotes-motivation-fitness-inspiration-workout-quotes-inspirational

Die storie van my tande

Dit het begin met sensitiewe en bloeiende tandvleis. Gingivitis.

Toe begin die tande losraak en uitmekaar skuif. Daar was ‘n gaping tussen my voortande wat net groter en groter geword het, terwyl my selfbeeld al meer en meer gekrimp het. Ek het al minder en minder gepraat en gelag. Mense vermy. Want ek was te skaam om my mond oop te maak. Dit was vir my ‘n geweldige vernedering dat wanneer ek my mond oopgemaak het, mense altyd heel eerste na my mond gekyk het waar die gaping was. Dis nie ‘n lekker gevoel nie, want ek was altyd bewus daarvan. Ek het geen selfvertroue gehad nie.

Toe val daar ‘n tand uit. En nog een. Een vir een het my tande begin losraak. Die tandarts het probeer red wat daar te redde was, maar tevergeefs. Verlede jaar het sy gediagnoseer dat ek ‘n toestand van Advanced Periodontitis het en aanbeveel dat al my tande verwyder word. En dis nie dat ek nie my tande versorg het nie, inteendeel. Ek is te gesteld op my voorkoms en het my tande goed versorg. Maar daar was geen verweer teen die genetiese siekte nie.

En so het dit gebeur dat ek verlede jaar Oktober, op ouderdom 41, ‘n totale tandekstraksie van die bo en onderkaak moes ondergaan het. Hulle noem dit ‘n “immediate fit” – die ekstraksie van al jou tande, en die onmiddellike passing van ‘n volledige stel prostetiese tande (algemeen meer bekend as “vals tande”). En nie onder narkose nie hoor, sommer net so in die stoel. By my volle bewussyn. Vir iemand so pieperig soos ek wat ‘n absolute fobie het vir dokters en naalde, was die hele idee en die hele proses vir my geweldig traumaties. Ek het nie geweet hoe om vrede te maak met die feit dat ek vir die res van my lewe sonder my eie tande oor die weg sou moes kom nie. Dit was seer, en ek het aanvanklik soos ‘n hamster gevoel met ‘n mondvol albasters. Maar my grootste vrees was dat ek met ‘n gebrek sou leef. Ek was bang nie net my mond nie, maar my hele gesig gaan “vals” lyk…. Die vrees van enige prostetiese pasiënt.

Dis nou 6 maande later. Ek het nog nie ‘n oomblik teruggekyk nie, want my nuwe tande was van dag een af perfek. Ek was gister vir my eerste “re-lining” en opvul (kunstande moet binne ses tot agt maande na die passing opgevul word, want in daardie tydperk krimp jou kakebeen relatief baie as gevolg van ‘n gebrek aan ondersteuning van natuurlike tande). As ek net dink aan die geweldige beperkinge waarmee ek voorheen moes saamgeleef het as gevolg van die toestand van my natuurlike tande….

Alles het verander. In die begin was die veranderinge en aanpassings  drasties want natuurlik kan ek kan nie meer eet soos ek voorheen geëet het nie. Ek kan byvoorbeeld nie meer ‘n appel of ‘n ribbetjie of ‘n stuk steak hap en afbyt soos voorheen nie. Ek moet alles in kleiner stukkies sny en versigtig kou. Ek wil amper sê ek moes ‘n meer verfynde manier van eet aanleer 😁

Een van die diakens wat kort na my “operasie” huisbesoek gedoen het, het ‘n snedige opmerking gemaak en gesê: “Dis sleg. Jy is nou ‘n volwaardige kaapse hotnot.” Hy kan bitter bly wees my mond was op daardie stadium nog geswel en seer, anders het ek hom ‘n bloedbek van sy eie gegee!

Nietemin. Alles het ten goede meegewerk. Ek kan lag en gesels sonder om vir ‘n oomblik selfbewus te voel. Sonder om te wonder of my tande vals lyk, want al lê hulle presies gelyk soos wit klaviernote langs mekaar, lyk hulle nie vals nie. Dit lyk soos regte tande. Ek voel ‘n honderd maal beter oor myself, en ek voel meer vroulik. My selfvertroue is volkome herstel. Ek kan nie onthou wanneer laas ek so goed gevoel het soos nou nie.

Net onlangs het ‘n kollega by die werk vir my gesê: “You must smile more because you have an amazing smile!” Dankie, ek dink ook so. My mond lyk beter. My lippe lyk voller. Ek voel jonk van gees.

So, vir diegene daarbuite soos ek wil ek net bemoedig: Moenie dat die stigmas van vals tande jou onderkry nie. Dis beter om vrede te maak daarmee – ongeag wat ander mense sê – as om met die sielkundige impak te worstel van jou mond se siektetoestand. Ja, dit is ‘n baie emosionele proses. Selfs traumaties. Ek weet, want om jou eie tande te verloor is om deel van jouself te verloor. Maar die hele proses is uit en uit die moeite werd…. En die mense vir wie jy regtig saakmaak, sal deur dik en dun by jou staan en jou ondersteun, en jou aanvaar nes jy is. Bogger die res. Voor jy jou oë uitvee is jy on top of the world!

Glimlag.Met.Trots.

P.S. Dankie Riaan, dat jy so mooi na my gekyk het, en dat jy nie gril vir my tande wat snags in die glasie op die wasbak staan nie! Lovies, Gummy-bear xxx