Ek begin eerder die jaar met vrae, en nie resolusies nie

Party mense vaar goed met nuwejaarsresolusies, ander nie. Ek is een van hulle; en ek sit al so lank met onbeantwoorde vrae wat net nooit tot uitsluitsel kom nie. Watter mens het nie vrae nie. David Whyte het gesê:

“The marvelous thing about a good question is that it shapes our identity as much by the asking as it does by the answering.”

So, hierdie jaar begin ek nie met besluite, resolusies, oplossings, beloftes, nuwe beginne, skoon bladsye, diete, oefenprogramme, en lewensveranderinge nie. Ek begin met vrae…. Wat as ek dit doen, en wat as ek nie? Wat as ek ja sê, of nee? Hoe sal dinge uitwerk as ek terughou, of alles gee? Hoe sal dit uitwerk as ek iets nuuts aanpak? Wat as dinge die jaar verander? Of wat as dit dieselfde bly?

Nietemin, hierdie gaan ‘n jaar wees van nog vrae; maar díé keer gaan ek baie meer ruimte gee daarvoor; en ek gaan vrede maak met die vrae wat vir so lank al aan my hartsnare roer vir aandag, wat gehoor wil word, beantwoord wil word, en verstaan wil word.

Ons spandeer soveel tyd en moeite om ons ou besluite te beskerm. Ons ploeg ons hakke ferm in die grond vir ou doelwitte wat nog steeds vasgeknoop is aan die ou moese en konne en wat asse…. Moese en konne en wat asse wat dalk glad nie meer aan ons behoort nie; of ou doelwitte wat nooit opgedateer of oordink is nie. Ons beskerm daardie doelwitte en besluite so verwoedelik…. En eintlik is dit desperaat vir nuwe vrae en opsies.

So, ek begin die jaar met vrae. En saam met die vrae kom daar emosies op soos ‘n bietjie vrees en ‘n angstigheidjie, of opgewondenheid, moed en hoop, of selfs ‘n gevoel van dinge wat stadig maar seker begin beweeg; iets binne-in jou wat wakker word. Dis eintlik baie moeilik om saam met vrae te leef sonder om te voel jy word ‘n bietjie gestrek van moontlike groei wat plaasvind. En dan moet ‘n mens nie nie vir antwoorde gaan soek nie. Nog nie. Al die vrae en gevoelens en moontlikhede moet maar soos ‘n ratel in ons binneste skud en raas, maar laat dit oor ons spoel, en langs ons wandel, en rus vind in ons siele, en aan die voete van Jesus. Laat dit groei, soos ‘n saadjie; en rank tot in elke deel van ons menswees wat verbind is met ons waardes en oortuigings; tot in die dele van onsself wat moeg en vergete geraak het. Laat elke vraag wat al so lank wag om gehoor te word, ‘n stem ontwikkel…. Jou eie stem, nie die stem van ander nie.

Díé jaar gaan ek my vrae lééf. En dalk begin ek in die antwoorde ook leef. Wetend of onwetend. Twee boeke waarmee ek die jaar gaan begin is Year of Yes: How to Dance it Out, Stand in the Sun and Be Your Own Person, van Shonda Rhimes; en Journey Through Trauma van Gretchen Schmelzer.

Wat is jou vrae?

Advertisements

Nog ‘n Grondpad-jaar

Ongeveer ses maande gelede het ek die pen neergesit en weggetree. Eintlik was dit my gesondheid wat my genoodsaak het om ‘n breek te vat; want skielik het dit op alle denkbare vlakke ‘n knou gekry en eenvoudig begin agteruit gaan. Die stryd is nie net meer emosioneel nie, dit het sielkundig en fisies ook geraak. Dominee het gisteroggend in sy preek genoem dat ons ons sorge, moeite en verdriet in ons liggame ook dra; tot so ‘n mate dat dit ons uiteindelik totaal ruïneer. Soos die ou spreekwoord sê, dis die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Dit was vir my geweldig moeilik, want as ek nie elke dag skryf nie dan verloor ek mos my kreatiewe mojo, of hoe? Dis tog wat meeste skrywers en kenners sê. Maar is dit gesonde raad, en geld dit vir almal??

Later daaroor (ek herkou nog hieraan….)

So, ten spyte van die gesondheid wat agteruit gegaan het, het die Here darem ook gesorg vir klein genadetjies (wat eintlik onbeskryflik groot is as ek daaraan dink). Daai regte goete wat op die regte tyd uit Sy hand kom; juis wanneer ons dit die nodigste het. Dinge wat help om die stres en die swarigheid en die hartseer van die lewe ‘n bietjie te verlig.

As ek terugkyk op 2018, dan was dit ‘n jaar wat ek nie wil oorhê nie. Ek onthou hoe ek slaggereed was om elke dag by die kraag aan te pak. Ek was eintlik heel oraait hoor, ek het alles onder beheer gehad. Of so het ek gedink. Tot ek een oggend opgestaan en besef, my fasade het verkrummel, ek is besig om onder te gaan.

Dit gebeur so dat, wanneer ons in die proses is om deur iets in ons lewens te werk en dit raak te moeilik of ondraaglik, dan gooi ons onsself totaal oor na ‘n ander aspek van ons lewens. In my geval, die werk. Maar ons vergeet om na die belangrikste aspek om te sien: onsself. Ek sien dit só. Wanneer ons selfone pap is dan prop ons dit vinnig by ‘n laaier in; maar wanneer ons krag min en ons lewensmoeg is, laat ons na om ook iewers te gaan inprop en te herlaai. Tot dit te laat is.

En hier staan ons aan die begin van nog ‘n grondpad-jaar waar ons dae gaan hê met mooi uitsigte, en dae wat ons weer kaalvoet oor die klippe gaan moet loop. Dae wanneer ons op ons knieë gaan neerval omdat ons nie kans sien vir die dag van môre nie…. En dae wanneer ons gaan rustig loop sonder dat ons hoef om te kyk of terug te draai. Dae van blomme pluk, en dae van dorings wat gaan steek.

Hoe jou jaar ookal vandag eindig, bid ek dat dit in 2019 vir jou oorvloedig sal reën waar jy ploeg, en dat jy elke seisoen méér sal hê as genoeg.

Voorspoedige nuwe jaar!!

Andorize xxx

Wat pla?

Dis ‘n baie revolusionêre vraag om te vra. Want my instink is om nie gepla te wees nie. Ek hou nie daarvan nie. Ek is eerder min gespin. En om iemand anders te vra wat pla gee geleentheid vir die persoon om te kla. Wat ek ook nie van hou nie.

Maar wat as ons dieper begin kyk? In plaas van om die vrede te bewaar deur ons frustrasies en irritasies eenkant toe te skuif, moet ons nie eerder leer om eerlik stil te raak en te dink oor die dinge wat ons pla nie? Nie net bolangs nie, maar diep in ons binneste ook?

Soms is die waarhede wat ons ontdek lelik en ongemaklik, maar saam met dit is daar ook sprankies van hoop wat ons nie altyd besef ons eintlik nodig het nie.

Om te erken wat ons eintlik pla, help ons om ons diepste hartsverlange bloot te lê. En wanneer ons weet wat ons diepste hartsverlange is, sal ons lewens dalk meer begin sin maak.

Wat as ons onsself meer gereeld afvra, Wat pla jou? En wat as ons dit meer gereeld vir mekaar vra?

Xxx

Vlerke soos ‘n duif

Vanaand wens ek soos Dawid, dat ek maar vlerke het soos ‘n duif om weg te vlieg en rus te hê. Ek sou ver weg vlieg, ek sou in die woestyn gaan woon. Ek sou my haas om te ontvlug….

Wens jy ook soms so as jy moeg en uitgestres is na ‘n stresvolle dag? Of ‘n paar dae van frustrasies en irritasies? Dis dae wat ek om wens en dis nie reg nie want elke dag is ‘n dag wat die Vader gee; maar daar is regtig net tye wat ‘n mens voel jy kan wegvlieg.

Die woestyn was ‘n gunsteling plek vir profete en manne van ouds om God te gaan vind (alhoewel ek eerder ‘n verlate eiland sou verkies!) Dis ongelukig ‘n luuksheid wat ons nie het nie, om ‘n laaaaaaaang vakansie te neem weg van die normale en alledaagse….

Maar dis lekker om elke dag ‘n mini-retreat te kan hê – ‘n koppie koffie en die Skrif of ‘n goeie geestelike boek.

Dankie Here, vir klein eilandjies van verfrissing elke dag!

En om hierdie rede moet ons nie moed opgee nie. Elke oggend is die Vader se genade nuut, en elke aand kan ons met ‘n geruste hart gaan slaap want Hy sorg vir ons en Hy dra ons dag vir dag – selfs deur die storms.

Dalk is dit eerder nodig dat ons vlerke geknip word sodat ons kan leer om soos arende op die stormwinde te sweef; en nie soos duiwe weg te vlieg nie.

Xxx

‘n Honderd en tien dinge om voor dankbaar te wees

Een van die dinge wat my grensloos irriteer is mense wat heeldag loop en kla oor alles en met niks tevrede is nie. Hulle sien niks positief in ‘n dag nie en is totaal negatief oor alles of hulle het elke dag ‘n ander pyn en kwaal. Hier by ons is so ‘n vrou. Dis pynlik om na haar te luister; sy klink soos ‘n plaat wat vashaak. ‘n Druppende kraan. Sy is erg! Ek kon dit net vanoggend nie meer hou nie en voor ek myself kon keer, toe maak ek half verergd die opmerking dat daar 110 dinge is waarvoor mens elke dag kan dankbaar wees. Haar reaksie natuurlik: Soos wat?

Nou kyk, ek moes my torre mooi agtermekaar kry maar met behulp van my kollegas kon ek vir haar ‘n lys van ‘n honderd en tien redes gee.

Almal het hul eie besige lewens en ons vat selde die tyd om net vir ‘n oomblik stil te raak en te dink aan al die dinge waarvoor ons kan dankbaar wees….

1. Familie

2. Vriende

3. Gesondheid

4. Opvoeding

5. Die geleentheid om te kan leer

6. Kos op die tafel

7. ‘n Warm bad

8. Toegang tot die internet

9. Die vermoë om te kan werk en ‘n inkomste

10. Sonsopkomste en sonsondergange

11. Die vermoë om te kan droom

12. Die vermoë om te kan sien

13. ‘n Dak oor jou kop

14. Om met vakansie te kan gaan

15. Troeteldiere

16. Verrassings

17. Wanneer iemand vir jou glimlag

18. Reënboë

19. ‘n Tuisgemaakte ete

20. Goeie nuus

 

 

21. Sjokolade

22. Die feit dat elke dag ‘n nuwe begin is

23. Die vryheid om te kan stem

24. Die vryheid om te kan kerk toe gaan

25. Moderne medisyne

26. Moderne tegnologie

27. Koffie

28. Drukkies

29. Om te gaan stap

30. Kameras om mooi oomblikke af te neem

31. Die snooze knoppie op die alarm

32. As jy iets kry wat jy gedink het jy’t verloor

33. Stokperdjies en die vermoë om dit te kan beoefen

34. Om te kan dans

35. Jou gunsteling fliek of tydskrif of boek

36. Vars drinkwater

37. Om te kan lag

 

38. Om sonder fisiese pyn te kan leef

39. Lekker slaap soentjies

40. Jou verbeelding

41. Jou kreatiwiteit

42. Om te kan uitsien na iets

43. Slaap

44. Natuur

45. Elektrisiteit

46. Om doelwitte te kan stel en dit te behaal

47. Onvoorwaardelike liefde

48. Om af en toe goed teen spesiale pryse te kan koop

49. Om elke oggend wakker te word

50. Toegang tot medikasie

51. Om tyd vir jouself te hê

52. Mense wat vriendelik is

53. Die feit dat jy uniek is en dat daar niemand anders soos jy is nie

54. Om te leer uit jou foute

55. Naweke

56. Pay-days

57. Seisoene

58. Die vermoë om in kleur te kan sien

59. Wonderlike kollegas

60. Diversiteit

61. Christelike tradisies soos kersfees en paasfees

62. Goeie bure

63. Die onskuld en eerlikheid van ins kinders

64. Om ‘n toekoms saam met iemand te bou

65. Om te kan bid

66. En diep betekenisvolle gesprekke tot in die vroeë oggendure te kan hê

67. Vergifnis

68. Spanwerk

69. Om na musiek te kan luister waarvan jy hou

 

 

 

 

 

70. Gemaklike klere

71. Mense wat die beste uit jou bring

72. Die vermoë om emosies te ervaar

73. Die vermoë om ‘n voertuig te kan bestuur

74. Nuwe vars beddegoed

75. Die vreugde van ‘n tuin en plante

76. Takeaways en restaurante

77. Om passies te hê

78. Transport / Vervoer elke dag werk en winkel toe

79. Ou foto’s

80. Laat slaap

81. Sondae. Rusdae

82. Slegte dae wat ons help om die goeies te waardeer

83. Die vermoë om mense te help

84. Om jammer te kan sê

85. Om oopkop te wees

86. Krag en sterkte vir elke dag

87. Ander mense se goedhartigheid

88. Respek

89. Om erkenning te kry vir jou werk

90. ‘n Hart wat die bloed deur jou are pomp en jou die vermoë gee om te kan voel

91. Longe wat jou help om asem te haal

92. ‘n Immuunsisteem wat jou liggaam teen kieme en siektes beskerm

93. Trane wat jou siel skoon was

94. Teleurstelling, sodat jy kan weet wat regtig saakmaak

95. Pyn en vrese, sodat jy ‘n sterker mens kan word

96. Die son wat elke dag op ons skyn

97. Blogs wat ons met ander skrywers verbind

98. ‘n Bed om in te slaap

99. Sielsgenote

100. Vyande wat jou help om ‘n beter mens te wees

101. Liefde

102. Uitdagings wat jou help om te groei

103. Lewe – vir alles wat jy kan ervaar

104. JY – vir wie jy is en wat jy beteken

105. Om nie hoef te wonder waar jou volgende bord kos vandaan gaan kom nie

106. Dat jy jou rekeninge die maand kan betaal

107. Die vermoë om tussen reg en verkeerd te kan onderskei

108. ‘n Tuiste waarheen jy elke dag kan gaan

109. Die vermoë om na joiself en na ander te kan kyk

110. Bo alles, God se genade wat jou dag na dra

Die doel in doelwitte

Dis al amper einde Junie en ek wonder hoe ver trek mense met hul nuwejaarsvoornemens. Nie ek nie, ek doen nie sulke goed nie. Ek hou nooit daarby nie want die lewe verander te veel en te vinnig. So ek is een van die twee ekstreme as dit by doelwitte kom. Ek is een van diegene wat meestal verkies om nie groot doelwitte of planne te hê nie. Ek het, maar dis met uitsondering. Ek mik na niks, en tog behaal ek ook resultate soos enige ander meer doelgerigte mens in die lewe. Maar ek is meer die “let go and let God” tipe; en minder die intellek.

Die ander ekstreem, natuurlik, is die persoon wat so rigied is in sy besluitneming dat daar geen ruimte is vir ander invloed of leiding nie.

So, wat is nou eintlik die regte manier, om doelwitte te hê, of glad nie? Want aan die een kant skryf Jakobus dat ons nie weet wat die dag van môre vir ons inhou en wat in ons lewe gaan gebeur nie; maar aan die ander kant skryf Salomo weer dat mense wat planne maak, ryk word. Nou hoe nou? Die twee staan in kontras met mekaar; een impliseer om planne te maak is eintlik ‘n mors van tyd, en die ander een sê, gaan vir goud!

Tog sien ons regdeur die Bybel voorbeelde van hoe God sy mense gelei het in hulle besluitnemings. Hy was deel van die proses: van die beplanning tot die uitvoer van planne. Jona wat moes Nineve toe gaan maar aanvanklik nie daar uitgekom het nie. God het sy plannetjies sommer vinnig kortgeknip! Paulus wou gaan evangeliseer en gaan kerke plant, en dinge het nie altyd uitgewerk soos hy beplan het nie. Sy sendingreis Asië toe het nie gerealiseer nie omdat die Heilige Gees hom verhinder het om daar te gaan preek. Die Skrif sê: “Die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie.” En dan weer kry ons vir Noag wat die lewens van sy familie en die diere in die ark van die vloed gered het. Lank vooruit beplan en stappe geneem om die Godgegewe doelwit te bereik. Josef wat vir Egipte en sy familie voorsiening getref het toe die hongersnood aangebreek het. Weereens, ‘n goeie intellek en goeie beplanning. Nehemia het vir die Israeliete van sekuriteit voorsien deur die muur rondom Jerusalem te herbou. Beplanning en doelwitte. Godgegewe, Godgesentreerd, deur God beïnvloed.

Dit sê vir my dat, wanneer ons planne en doelwitte het – nog voordat ons behoorlik daaraan dink – moet ons dit in lyn met God se wil kry. Ek dink nie Jakobus het bedoel dat ons glad nie mag doelwitte hê nie. Ek dink wat hy probeer sê is, ja, stel julle doelwitte en maak julle planne; maar moenie so onlosmaaklik rigied daarin vas wees nie. “Nee, julle moet sê: “As die Here wil hê dat dit moet gebeur, dan sal ons lewe en dan sal ons hierdie dinge doen” (Jak. 4:15). En hierin lê die balans. Al het Paulus doelwitte gehad, selfs Godgesentreerde doelwitte, was hy sensitief vir die leiding van die Heilige Gees. Hy het toegelaat dat die Here sy planne bestuur en verander soos Hy goeddink.

Dit is nou maar eenmaal so dat dinge vir ons ten goede sal uitwerk wanneer ons ons planne en ambisies en agendas vir God gee sodat Hy dit in lyn met Sy wil kan bring. Hy weet wat vir ons die beste is en Hy wil vir ons die beste hê. Hy begeer dat dit met ons goed gaan en nie sleg nie (Jer. 29:11); en ek praat nie hier noodwendig van sendingreise en kerke plant nie. Ek praat spesifiek uit die staanspoor van ‘n doodnormale, alledaagse lewe. Ons moet leer om God volkome te vertrou met al ons planne en doelwitte, en toelaat dat Hy ons sal lei en in Sy besluite gegrond sal hou.

Mag Hy vir ons die regte insigte gee wat ons elke dag nodig het.

Xxx