Gee iemand hoop

Tydens die Nazi regime van Hitler, het ‘n verslaggewer die Eerste Minister Winston Churchill, gevra wat sy land se grootste wapen was nadat hy Brittanje deur die donkerste oomblikke van die Tweede Wêreld Oorlog gelei het. Sonder om te huiwer het Churchill geantwoord: “Dit was nog altyd Engeland se grootste wapen – HOOP.”

Hoop is een van die kragtigste, mees lewenslustige en lewegewende woorde in enige taal. Dit is iets wat ons die moed en energie gee om aan te gaan deur die slegte tye van die lewe.

Dit word gesê dat ‘n persoon 40 dae sonder kos kan leef; 4 dae sonder water; 4 minute sonder suurstof; maar slegs 4 sekondes sonder hoop.

Oppad werk toe vanoggend het iemand vir my hoop gegee; iemand van wie ek dit glad nie verwag het nie. Soos die barmhartige Samaritaan.

As jy mense wil help om te wen, word ‘n gewer van hoop.

xxx

Advertisements

Waar sal my hulp vandaan kom?

Ek kyk op na die berge en ek vra myself af: Van waar sal iemand kom om my te help? Wie in hierdie lewe sal my kan help? Niemand nie. Nie ‘n mens nie want mense is onbetroubaar. Dit is net die Hoërhand wat my sal help. En Hy sal keer dat nie een van my dogters sal val nie. Hy sal hulle beskerm, Hy slaap nooit. Hy sal altyd langs hulle wees – dag en nag; en hulle beskerm teen gevaar en verlos van alles wat sleg is.

Hiervan is ek seker: dat hulle lewens veilig in Sy hande sal wees want die Hoërhand sal hulle beskerm oral waar hulle gaan, nou en vir altyd.

(Verpersoonliking van Psalm 121)

xxx

Soveel, soveel….

Soveel kinders se paaie deur dieptes heen gedraai; verlate van vaders en moeders, oumas en oupas, vriende, familie….

Ons kan net bid dat die Here hulle sal aanneem; hulle sal behoed en bewaar; hulle sal leer om op Sy weg te gaan; hulle langs die regte paaie sal lei en bewaar op al hul lewensgange; hulle sal verlos van die bose en hulle vry sal maak van leuens, bedrog, en onreg; hulle voete weg van die sondaarsweg sal keer en van die booshede wat die Godsvrees uit hulle harte wegneem; vir hulle ‘n stroom sal wees wat bruis uit die dieptes van Sy genade en ontferming.

XxX

Genade…. die menopouse!!

Oor die afgelope 6 maande ervaar ek die vreemdste goete…. warm gloede, slapelose nagte, buierigheid, huilerigheid…. en ek weet tot nou toe nie wat sit dit af nie.

“Vroutjie,” sê my huisdokter onlangs vir my; “jou FSH telling is 60.8. Normaal is om en by 30. Jy is voluit in jou menopouse.”

Hallo? Ek is 44 en ek het menopouse?!

Menopouse: Die Universele Ervaring

Jip. Iets waarvoor elke vrou geskape is om te ervaar. Tensy ‘n vrou nie prematuur sterf nie, sal sy deur menopouse gaan. Dis een van daardie fisiese elemente wat in ons vrouwees geweef is, te danke aan Eva. Ek is seker toe sy die eerste hap van daardie verbode vrug geneem het, het sy nie gedink aan fisiese en geestelike elemente wat nie altyd van mekaar geskei kan word nie! Nog minder aan iets soos menopouse!

Vir diegene wat nie weet nie: menopouse gaan gepaard met dinge soos onder andere warm gloede; gewigtoename; ongewenste hare in die gesig en ken area; buierigheid; depressie; hoofpyne en migraines; slapeloosheid; die onvermoë om te konsentreer; ‘n toenemende risiko vir hartsiektes en osteoporose; vergeetagtigheid; ‘n doodse moegheid…. Menopouse affekteer jou hele vrouwees – liggaamlik, verstandelik, en geestelik. In die geindustrialiseerde wêreld daarbuite gebeur menopouse gemiddeld op ouderdom 51 jaar, maar dit kan ook so vroeg begin as 40, of so laat as 58. In my geval het ek ‘n vroeë menopouse bereik omdat ek vroeg in my lewe ‘n histerektomie gehad het (op 27), en ek het nooit nodig gehad vir ‘n hormoonaanvulling nie. Tot nou toe.

Dis lekker om daaroor grappe te maak, natuurlik. Ons lag vir ons ma’s en vir ander vrouens wat in hul menopouses is, en meeste van die tyd lag hulle maar saam. Maar eintlik is daar niks om oor te lag nie. As mens eers in menopouse is, is dit nie meer snaaks nie. Dis ‘n saak van gebed. Soos my huisdokter vir my gesê het: “Jy gaan nog baie met die Here praat.”

Menopouse gebeur gewoonlik oor ‘n tydperk wanneer daar betekenisvolle veranderinge in ‘n vrou se lewe plaasvind: haar kinders gaan uit die huis uit; haar ouers raak dalk siek; sy keer terug na ‘n besige loopbaan; versorg haar kleinkinders; dalk tree haar man vroeg af…. Dit kan ‘n kombinasie van gebeure wees en daardie dinge is klaar moeilik genoeg om te hanteer. Nou is daar die ekstra komplikasies van emosionele en fisiese aspekte van menopouse wat ook nog bygevoeg word, wat dit ekstra moeilik maak…. PLUS die feit dat ons in ‘n vreeslik jeug-obsessiewe en jeug-georienteerde kultuur leef. Een ding oor menopouse is dat dit ons oë baie vinnig oopmaak vir onbenullighede rondom ons. Dis eintlik skrikwekkend. Ons besef ons word ouer. Realiteit. In ‘n kultuur wat nie altyd ouer mense en die oudword proses respekteer nie. Realiteit. So, ‘n mens kan nogal vinnig uit voeling raak met die samelewing, of erger, uitgeskuif word. Realiteit. Ek ervaar dit elke dag eerstehands by my werk. Ek is onder die vyf oudstes in ons departement; en ek is nou maar 44 jaar oud, bid jou dit aan! Mense wat jare jonger as ek is word in posisies bo my aangestel, ongeag of dit nou polities gedrewe aanstellings is of nie. Die punt bly, dis nie maklik om in ‘n maatskappy te werk waar nie net ander kulture en nasies, maar ook die jonger geslag, aan bewind staan nie. Net die politieke kwessies en die ouderdomsverskille alleen maak die werksplek geweldig demoraliserend. So, die stres van ouer word en die uitdagings van elke dag by die huis en werk word al hoe meer ‘n werklikheid – en op hierdie stadium van die geveg raak die stryd al hoe groter. Of nog erger: bitter.

Ek weet dit klink somber. Nes ‘n mens dink jy het die geestelike en emosionele stryd op ander gebiede gewen, dan kom die fisiese uitdagings, soos menopouse. Maar wat kan ons daaraan doen?

Eintlik baie.

Eerstens moet ons onthou – baie belangrik! – dat ons na God se ewebeeld gemaak is; en dat ons liggame deur Hom geskep is: kunstig geweef in die dieptes van die aarde (Ps. 139:15). Elke proses en fase waardeur die menslike liggaam gaan – selfs veroudering – is deel van Sy ontwerp. Niks is vir Hom vreemd of verborge nie.

U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie (Ps. 139:16)

Tweedens moet ons ook onthou dat Romeine 12:1-2 nie net vir jongmense bedoel was nie: gee dan julleself aan Hom as ‘n lewende en heilige offer. Ons is nog steeds veronderstel om onsself vir Sy diens te offer – ten spyte van ons estrogeen vlakke! In Christus het ons alles wat ons nodig het vir die lewe en vir ‘n goddelike lewe. Maak nie saak hoe oud ons is nie: menopouse is nie ‘n verskoning om nie in God se diens te staan en ‘n verskil in die wêreld te maak nie. Dit is ook nie ‘n verskoning vir ons emosies om oor ons te heers nie. Om ouer te wees is eintlik ‘n wonderlike geleentheid vir diensbaarheid. Menopouse kan maak dat ons baie selfgefokus raak. Daarom is dit so belangrik om buite onsself te kyk en om te dien en te werk soos ons gesondheid dit toelaat (ons moet na onsself ook kyk voordat ons na ander mense kan omsien).

Derdens kan ons ingelig bly: om alles te leer oor wat om te verwag in hierdie tyd van ons lewens. Ons het nie beheer oor die veranderinge wat in ons liggame plaasvind nie, maar ons kan baie meer produktief wees as ons goed ingelig is en begryp waaroor die veranderinge gaan.

Vierdens kan ons gesond bly deur meer te fokus op gesond leef. Fokus minder op hoe ons liggame lyk, en meer op ons gesondheid in die algemeen. Bly aktief, eet gesond, kry ondersteuning, of bied ondersteuning.

En laastens, bly in God se Woord. Leer ken die Skepper van ons liggame soos Hy is, want dit help ons om onsself deur Sy oë te sien. Ons kan nie onsself leer ken of probeer verstaan sonder om Hom te leer ken nie. Ons het nodig om elke dag herinner te word aan God se getrouheid en liefde; sodat wanneer ons moeg en uitgeput raak, ons weet Wie ons bron van krag is. Hy sal die goeie werk wat Hy in ons begin het, enduit voer – ongeag van wat ons fisiese situasie is. Hy mag selfs die bittere stryd in hierdie tyd van ons lewens gebruik om ons te suiwer. Ons sal nooit weet nie, maar een ding is seker: menopouse is nie hier om ons dood te maak nie. Ja, die ongemaklikhede is nie aangenaam nie, maar soos in elke ander geval waar ons swak voel, is Hy daar. Ons is nie alleen nie.

So, vir elke mede-menopouser daarbuite wil ek net ‘n stywe drukkie stuur en sê: hou die lied in die hart!

In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde (Ps. 30:5)

xxx

Die gawe van skryf

My twee dogters was en sal vir my altyd my skrywerskinders wees. As kinders was hulle lief vir briefies skryf, stories. Ook graag oor God  geskryf; hulle idees oor wat hulle oor geloof begryp het en hulle persepsie van wie en wat God vir hulle was…. en dit was absoluut een van hulle sterkste liefdestale: om te kon skryf.

Die spesiale gawe het van kleins af ontwikkel. Laat ek julle vertel, daar is baie geskenke wat ‘n mens kan ontvang; fisiese items wat jy met geld kan koop of met jou hande kan maak. Maar die geskrewe woord, in watter vorm ookal, is nie ‘n geskenk wat ooit afgesaag en afgerem raak nie. Wanneer ons vir iemand die geskenk van ‘n geskrewe woord gee, dan gee ons iets baie kosbaar. Daarom is my kinders se briefies wat ek al die jare gebêre het, vandag nog vir my bitter kosbaar; want daardeur het hulle vir my hulle hart en siel en gegee; hulle tyd; hulle kreatiwiteit…. Want dit is wat ons wat skryf vir ander gee. Waar in die lewe is daar sulke geskenke te vinde? Nêrens anders. Dis nie iets wat jy by die winkel kan koop of aanlyn kan bestel nie. Dit is in ons harte en menswees ingeweef en ingegraveer.

Ek weet nie of my dogters vandag meer so graag skryf nie, maar ek  wéét wel dat niks die Vader sal keer om hierdie wonderlike gawe op ‘n buitengewone wyse in hulle lewens te  herstel nie. Geen maatemmer waaronder talente en gawes weggesteek lê, was nog ooit vir Hom ‘n probleem om te hanteer nie…. En Hy werk nogal heel kreatief met kreatiewe mense! Daarom, wanneer ek vir my dogters bid, dan bid ek met die wete dat God in Sy oneindige genade & liefde net die beste vir hulle wil hê; in Sy wysheid weet Hy wat goed is vir hulle; en in Sy krag & almag sal Hy dit volbring. Hiervan sal ek altyd seker wees.

Hoe lief jy jouself??

Dis Valentynsdag en dis die maand van liefde; en wanneer ons van ons kinders afgesny is, het ons al die liefde nodig wat ons kan kry!

For people who have been badly hurt, love seems a long way away.

Dis nie selfsugtig om jouself lief te hê nie. Ons weet nie altyd hoe nie, maar daar is maniere….

Kyk goed na jouself en pas jouself op

Wees medelydend en geduldig met jouself

Weet waar lê jou sterkte in tye van teenspoed

Wees teenwoordig in elke oomblik, moenie dat die lewe verby jou gaan nie

Deel elke dag ‘n bietjie geluk uit

Herinner jouself dat dit beter is om te gee as om te ontvang

En vier die liefde!

Gelukkige Valentynsdag vir almal!

Veral aan die Mammas, Pappas, Oumas en Oupas wat afgesny is van hul kinders en kleinkinders. Baie liefde vir julle xxx

Ons mislukkings

Dis ongetwyfeld die moeilikste area in ‘n mens se lewe – veral as dit diegene vir wie ons omgee en liefhet, affekteer en benadeel.

Dit is vir my ‘n geweldige vreugde, saligheid en trots nou dat my dogters uittree na die grootmenswêreld. Ek is vreeslik blygeestig en opgewonde daaroor dat hulle ‘n pragtige deel van hulle lewens gaan betree en ervaar…. Maar terselfdertyd pynig dit my ook om te weet dat daar areas van behoefte en sielewroeging in hulle lewens ook teenwoordig is – omdat ek as ouer hulle met tye gefaal het.

Maar dit moet ons altyd onthou: Selfs hierdie areas vorm deel van “alle dinge” wat God sal gebruik om Sy doel te bereik. So, wanneer gedagtes van mislukking by ons opkom en ‘n pad deur ons gewete forseer, moet ons net onthou dat SY vergifnis tot ons beskikbaarheid is; en dat dit in staat is om al ons spyt en al ons verwyte weg te vee. Hy wat ons liefhet en aanvaar net soos ons – en Sy goeie werke in en deur ons doen om ons meer te maak as wat ons is.

Hy verwag nie van ons of ons kinders om nou op hierdie oomblik afgehandelde produkte te wees nie. Hy wat ‘n goeie werk in ons begin het, sal dit voleindig (Fil. 1:6).