‘Spring clean’ deur die emosionele winters

Luister, ek weet nie wat is die korrekte afrikaanse term vir ‘spring clean’ nie; maar ek het na verwante woorde gaan kyk wat sinoniem is daarmee: reinig, ontsmet, verwyder, disinfekteer, uitploeg, ontwortel, netjies maak, blink vryf, opknap. Ek dink julle kry die idee. Die rede hoekom ek dit noem is omdat ‘n vroutjie my onlangs gevra het: Hoe het jy deur jou droë seisoene gekom? Sy praat natuurlik van die emosionele winters; die dooie tye in ‘n mens se lewe…. Want dis mos wat winter is: dood en vaal en saadjies gaan in die grond en gaan dood. Maar nie vir altyd nie.

Ek is nie ‘n wintermens nie. Het julle geweet daar bestaan iets soos seisoenale depressie? Dis iets wat ek gehad het. Mens kry dit so net voor die winter en dan hou dit gewoonlik so ses maande aan. Hierdie is die eerste jaar na sewe wat ek dit nie gekry het nie.

Om te antwoord op jou vraag vriendin, hoe ek deur my emosionele winters gekom het? Ek het begin by my huis en my tuin; en leer voortdurend my grootste lewenslesse daaruit. Net soos wat ek beplan om my huis en my tuin te spring clean, so neem ek dieselfde aksies vir myself ook. Dis egter nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie; moenie dink na eenkeer se skoonmaak is die emosies en gesondheid als reg nie. Nee, hierdie is ‘n gereelde ding wat jy voortdurend moet doen om jou pad vorentoe oop te kap.

Toe ek nou die dag bietjie in my tuin rondvroetel en onkruid uittrek (en ek hou nie altyd daarvan om onkruid uit te trek nie, want mens kry die mooiste onkruid!) – maar terwyl ek van die onkruid uitgetrek het, toe kry ek die gedagte dat onkruid nie juis energie vermors om hulle plekkie in die son te vind nie; hulle groei net! En ons? Waarop vermors ons ons energie? Hoekom so baie energie bestee waar dit geen vrug kan dra nie? Watter gewoontes is nie meer goed vir ons nie? Waar en hoe kan ons ons tyd beter bestee?

Soos ons kinders wat nie met ons wil kontak maak nie. Ons as ouers probeer altyd van tyd tot tyd uitreik na ons kinders; net om aan hulle te bevestig dat ons vir hulle lief is en dat ons enige tyd kontak sal verwelkom van hulle kant af; maar wanneer daar niks van ons boodskappe of geskenke kom nie behalwe ‘n koue skouer, affrontering, slegsêery, en swartsmeerdery – dan is dit tyd om ‘n verandering te maak.

Die winter is op die voorstoep, so ons klerekaste kort ‘n goeie skoonmaak en regpak. Ons gedagtes ook. ‘n Goeie organisering het nog niemand skade gedoen nie. Let op wanneer die hartseer gedagtes insluip en jou gedagtes na diep en donker plekke dwaal op moedersdag of verjaarsdae of Kersdag. Beplan vooruit om daardie ou gedagtepatrone teen te staan. Besluit dat van nou af sal dinge anders wees. Gee aan jou droë seisoen nuwe lewe 🙂 Die tye wanneer jy af voel kan doen met bietjie struktuur; soos die kaste en laaie in jou klerekas waar elke ding in sy plek is. Maak planne vir familie en vriende, stokperdjies, reis, ens. Begin klein. Selfs klein veranderinge kan struktuur vir ‘n groot positiewe verandering skep.

‘n Ouma wie se kleinkinders hulle afgesny het van haar af, sê sy het begin om vroeg op te staan, te bad en aan te trek sodat sy teen agtuur soggens reg is. Sy sê sy voel sommer tonne beter as sy vroeg op en aan die gang is met haar aktiwiteite; want dit help haar om nie heeldag in haar slaapklere te loop en haarself jammer te kry nie.

‘n Pa vertel dat hy elke aand sy kalender deurgaan en planne vooruit maak vir die week. Hy gaan kuier vir ‘n vriend, gaan gim toe, bybelstudie toe, gaan eet uit, ens. Dit help hom om uit te sien na die volgende dag.

Ek het ophou rook; nuwe stokperdjies gekry en begin met kursusse om myself te bekwaam. Dit het my gehelp om die wintersvel vir goed af te skud. Moedersdag is Ouma Anna by my. Ons gaan dit sommer ‘n braaidag maak. Ek weet nie of sy volgende Moedersdag nog met ons sal wees nie; maar ek weet wel dat as ek myself op Moedersdag gaan sit en bejammer, ek die geleentheid gaan mis om die dag vir haar spesiaal te maak.

So liewe mens, gaan kyk maar net na die blomme in jou tuin en besluit vir jouself: Ek gaan ook nou my gesig na die son draai; en blom, en groei! Reik uit na dinge en mense wat jou gelukkig maak. Bestee jou energie op maniere wat jou sal help om betekenis en blydskap te vind. En moet nooit ophou waak teen die ou gewoontes wat soos tuinslakke hulle pad sal probeer terugvind nie. Pluk hulle uit voordat hulle skade kan doen!

xxx

Advertisements

2 thoughts on “‘Spring clean’ deur die emosionele winters

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s