My ouma Anna

Dit is vir my ‘n groot voorreg om na my Ouma Anna te help omsien. Sy was ongeveer twee jaar gelede na die ouetehuis in Postmasburg geskuif, maar ek het eers onlangs met haar kontak gemaak. Ons het vir baie jare nie van mekaar se doen en late geweet nie, ook maar as gevolg van familietwiste. Maar nou is sy weer terug in my lewe op die ouderdom van 92 – en ek glo dit is nie toevallig dat ek juis in die woonstel reg langs die ouetehuis ingetrek het nie!!

Ek gaan besoek haar gedurende die week wanneer ek ‘n tydjie kan afknyp; en meeste van die naweke gaan haal ek haar om by my te kom kuier. Mense by die werk en in die kerk het my gewaarsku, ek weet nie waarvoor ek myself inlaat nie, dit is ‘n groot verantwoordelikheid. Een tannie het selfs die opmerking gemaak dat ek vir myself en my ouma ‘n baie groot onreg aandoen. Ek probeer nog daardie som maak….

Ek weet dit is ‘n groot verantwoordelik om na ‘n bejaarde om te sien, en dit nog op so ‘n hoë ouderdom ook. Ouma Anna is verswak en sy kan baie min vir haarself doen, so sy het algehele hulp en sorg nodig. Ek stry nie, dis ‘n groot uitdaging, maar in geen opsig ‘n las nie. Niemand kan vir ons geliefdes sorg beter as ons self nie; en die rol van versorger is een wat die liewe Vader in die Hemel spesiaal vir ons uitkies.

Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe ‘n groot voorreg dit vir my is om vir Ouma in haar laaste tyd hier op aarde te help versorg nie. Wat ‘n wonderlike geleentheid om my verhouding met haar te kan verdiep, en die lewe vir haar so gerieflik as moontlik te kan maak. Om te dink, as dit nie vir ‘n familietwis was nie, sou ek dalk nooit hierdie kans gehad het nie; en die hele situasie het my laat reflekteer op die moontlikheid dat kleinkinders in vandag se tyd ‘n toenemende rol kan speel om hulle grootouers te versorg en te help in elke aspek van hulle lewens.

Buiten die geleentheid om ons verhouding met ons grootouers te verdiep, is dit ‘n verhouding wat anders is as ouer / kind verhoudings. Ek dink kleinkinders dra nie dieselfde baggasie as kinders wat te doen het met ‘n bejaarde ouer of ouers nie. My ouma laat my byvoorbeeld as haar kleindogter baie meer ruimte toe om besluite namens haar te neem, as haar seun of haar dogter.

Ouma Anna het ‘n ongelooflike sin vir humor. Kyk, sy is kwaai, maar sy laat nooit na om ‘n grap of twee te maak en ander te laat lag nie. Dan is daar die tye wanneer sy geirriteerd raak omdat sy haarself nie meer kan help nie; en sy soms net moedeloos sit en huil. Ek hoor baiemaal wanneer sy hier by my is en sy dink sy is alleen, hoe sy met die Here sit en worstel. Dan weet ek nie wat om vir haar te sê of hoe om haar te troos nie; ek is nie in haar posisie nie. Dan vat ek maar net haar hand in myne en sit stil by haar.

Ouma het my al ‘n paar gevra, het ek ooit gedink toe ek 5 jaar oud was, dat ek eendag na my 92-jarige Ouma sal omsien? Dan antwoord ek haar, Nee Ouma, nie in my wildste drome nie! Maar ek weet wel dat die trajek van nie net my lewe nie, maar ook my Ouma se lewe, verander het. My Ouma wou graag in haar jong dae ‘n verpleegster geword het, maar sy is verhoed om te gaan verpleeg. Sy het haar lewe lank na ander mense omgesien, tot op die ouderdom van 80, toe haar gesondheid letterlik oornag ingekonk het, en sy van daar af deur ander versorg moes word. Vandag 12 jaar later sukkel sy nog steeds om tot terme te kom daarmee. Ek dink dikwels aan Paulus wat baie maal vir die Here gevra het om die swaarkry en leiding van hom af weg te neem – die doring in sy vlees – en dan het God net geantwoord: “My genade vir jou is genoeg.”

Ek wil vir ander kleinkinders wat ook die voorreg het om na ‘n grootouer – of selfs ‘n ouer – om te sien, dit gaan oor baie meer as net ‘n blote plig. Dit gaan oor hoe om hulle te hanteer as hulle moeilik en hardkoppig raak; hoe om na jouself om te sien en te keer dat jy nie uitbrand nie; hoe om met hulle te ‘connect’ as hulle af en weerloos en hulpeloos voel…. Ons almal kry sulke dae; en as ons eers leer hoe om dit vir iemand anders beter te maak, is dit soveel makliker om dit vir onsself ook makliker te maak. Dit gaan oor hoe om die beste te maak van die tyd wat julle saam kan spandeer.

Daar is nie ‘n universele manier wat reg is om na iemand om te sien nie. Elke situasie is anders. Elke mens is en elke behoefte verskil. Dit is ‘n baie besondere reistog hierdie, vol hartseer en terselfdertyd blydskap; moegheid, tamheid, liefde, frustrasies, vervulling…. Maar op die ou end glo ek tog dat, om ‘n versorger te wees, seker een van die grootste gawes is wat ons kan gee – en dieselfde tyd kan terug ontvang ook.

Advertisements

3 thoughts on “My ouma Anna

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s