En toe ontdek ek Mamma-Luv

My nuwe blognaam en adres. Iets wat ek die afgelope paar jaar sterk aan die hart gevoel het, maar nie moed gehad het om op te diep en die hand op te lê nie. Dit gaan maar oor die oneer en skaamte van die saak; die emosionele ondraaglikheid en die stigmas daaraan verbonde. Ek wou nooit rêrig daaroor gepraat het nie, juis omdat dit ‘n vreugdelose en moedverlore affêre is; maar ná die terugslag in 2018, het ek besluit om hierdie jaar – ten spyte van liggaamlike en geestelike ongesteldheid – ‘n meesterlike jaar maak.

So het my jongste ook gematrikuleer en ek verneem dat sy ook oppad is na die buiteland. Ousus is ook daar; en in my geestesoog sien ek die wêreld om hulle bedek onder ‘n sagte sneeukombers. Weg is die modderspore en kronkelpaaie wat na nêrens lei…. Weggevee die deurkliefde groewe van hoekoms en waaroms en ‘wat as’. En op hierdie witskoon, skilderagtige landskap, die tekens van voetpaaie wat hulle vir hulself gaan oopkap. ‘n Vars begin. En ek weet in my hart hulle is gereed.

Ek ook.

Die briefies wat my dogters vir my geskryf het toe hulle jonger en nog by my was, lees ek baie maal oor en oor en ek besef net, hey, ek IS ‘n Mamma en daar was ‘n tyd toe ek en my dogters baie ná aan mekaar was; ‘n tyd toe hulle vir my ook lief was en ek die beste Mamma in hulle wêreld was. Dis deel van my lewe wat niks en niemand kan wegvee nie, so ja, ek is Mamma-luv. I am loved! Ek het nog ‘n jaar en nog ‘n Kersfees deurgeworstel en oorleef. Dis elke jaar ‘n steil opdraande, maar ‘n mens leer, wanneer jy eventueel bo uitkom, om die uitsig na die anderkant toe te waardeer.

Soms is dit goed om verwagtinge te laat vaar. En skuldgevoelens. Ek kon dalk probeer het om meer gereeld uit te reik, maar ek het darem probeer. Op my manier, en in my onkunde. Ek los gelukwensings vir hul verjaarsdae op my blog. Tog elke keer wat ek op een of ander manier kommunikeer, kry ek slae – en dit maak seer. But love knows what to do. Dis beter om die twis te laat vaar, en die siel te behou.

‘n Ma wéét. Haar liefde is geduldig.

Xxx

Advertisements

9 thoughts on “En toe ontdek ek Mamma-Luv

  1. Om ‘n kind aan die dood af te staan, is bitter erg en ek hoop ons word dit gespaar.
    Om ‘n kind in die lewe te verloor is ook afgryslik. Jy treur net so, jy weet nie of jy die kind ooit weer sal sien nie, die troos van ander mense is minder, jy voel skaam, ondersoek jou lewe en dit wat gebeur het, oor en oor en oor en jy hou aan hoop, hou aan probeer, hou aan pakke slae kry. Jy wil nie daaroor skryf nie, want jy is bang verkeerde oë sien dit en dan vererger die situasie net.
    Ek bid vir jou dat die herstel tog sal kom, stukkie vir stukkie, dat jy deur hierdie verskriklike diep sloot sal kom, dat die triomf wat uit hierdie groot vernedering sal kom, alles sal oortref. Ek bid dat dit nie meer lank sal wees nie. Sterkte, my maat.

    Liked by 1 person

    • Andorize says:

      Jy praat waar, Toortsie. Dankie vir jou begrip. Om die wa deur die drif te trek is nogal ‘n kuns, ek glo in enige situasie. ‘n Vriendin en haar dogter op vakansie het nou die dag my dogter raakgeloop, en met goeie bedoelings my daarvan laat weet. Sy het my vertel hoe spontaan en vriendelik sy was, en hoe lekker hulle met haar gesels het; en dat ek gerus kan wees, sy is ‘n pragtige jong dame. Dit het vir my gevoel, hoe is dit dat almal behalwe ek die teenwoordigheid van my dogter kan geniet? Ek voel alles behalwe gerus. En ek weet dis omdat ek baie gefokus is op die emosionele pyn, want ek kom nie gesond nie. En die jaar het ek myself voorgeneem om werk te maak daarvan, om deur die rou proses te begin werk. My kinders is nou groot, hulle slaan hul eie koers in en gaan aan met hulle lewens. Hulle het my nie meer nodig nie. Ek moet ook nou besluit watter koers ek wil inslaan, sodat ek deur die emosionele pyn kan werk en ander mense in dieselfde situasie kan bemoedig en ondersteun. 🌷

      Liked by 1 person

      • Ek weet regtig waardeur jy gaan. ❤️ Ja, mens raak moedeloos.
        Dit sal goed wees as jy aan jou eie heelword sal werk.
        Maar die hoop sal altyd daar wees. En die weer probeer en weer seerkry.
        Moenie ophou hoop nie asseblief.

        Liked by 2 people

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s