Nog ‘n Grondpad-jaar

Ongeveer ses maande gelede het ek die pen neergesit en weggetree. Eintlik was dit my gesondheid wat my genoodsaak het om ‘n breek te vat; want skielik het dit op alle denkbare vlakke ‘n knou gekry en eenvoudig begin agteruit gaan. Die stryd is nie net meer emosioneel nie, dit het sielkundig en fisies ook geraak. Dominee het gisteroggend in sy preek genoem dat ons ons sorge, moeite en verdriet in ons liggame ook dra; tot so ‘n mate dat dit ons uiteindelik totaal ruïneer. Soos die ou spreekwoord sê, dis die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Dit was vir my geweldig moeilik, want as ek nie elke dag skryf nie dan verloor ek mos my kreatiewe mojo, of hoe? Dis tog wat meeste skrywers en kenners sê. Maar is dit gesonde raad, en geld dit vir almal??

Later daaroor (ek herkou nog hieraan….)

So, ten spyte van die gesondheid wat agteruit gegaan het, het die Here darem ook gesorg vir klein genadetjies (wat eintlik onbeskryflik groot is as ek daaraan dink). Daai regte goete wat op die regte tyd uit Sy hand kom; juis wanneer ons dit die nodigste het. Dinge wat help om die stres en die swarigheid en die hartseer van die lewe ‘n bietjie te verlig.

As ek terugkyk op 2018, dan was dit ‘n jaar wat ek nie wil oorhê nie. Ek onthou hoe ek slaggereed was om elke dag by die kraag aan te pak. Ek was eintlik heel oraait hoor, ek het alles onder beheer gehad. Of so het ek gedink. Tot ek een oggend opgestaan en besef, my fasade het verkrummel, ek is besig om onder te gaan.

Dit gebeur so dat, wanneer ons in die proses is om deur iets in ons lewens te werk en dit raak te moeilik of ondraaglik, dan gooi ons onsself totaal oor na ‘n ander aspek van ons lewens. In my geval, die werk. Maar ons vergeet om na die belangrikste aspek om te sien: onsself. Ek sien dit só. Wanneer ons selfone pap is dan prop ons dit vinnig by ‘n laaier in; maar wanneer ons krag min en ons lewensmoeg is, laat ons na om ook iewers te gaan inprop en te herlaai. Tot dit te laat is.

En hier staan ons aan die begin van nog ‘n grondpad-jaar waar ons dae gaan hê met mooi uitsigte, en dae wat ons weer kaalvoet oor die klippe gaan moet loop. Dae wanneer ons op ons knieë gaan neerval omdat ons nie kans sien vir die dag van môre nie…. En dae wanneer ons gaan rustig loop sonder dat ons hoef om te kyk of terug te draai. Dae van blomme pluk, en dae van dorings wat gaan steek.

Hoe jou jaar ookal vandag eindig, bid ek dat dit in 2019 vir jou oorvloedig sal reën waar jy ploeg, en dat jy elke seisoen méér sal hê as genoeg.

Voorspoedige nuwe jaar!!

Andorize xxx

Advertisements

8 thoughts on “Nog ‘n Grondpad-jaar

  1. Wonderlik om jou weer hier te sien, Andorize. Ek het jou regtig gemis, jong. So jammer om te hoor dat jy nie ń goeie jaar agter die rug het nie, maar ek bid jou ń nuwe bladsy toe wat van voor af volgeskryf kan word.🌹🤗

    Like

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s