Audioboek: Courageous Women of the Bible

Ek het hierdie audioboek so pas klaar geluister, geskryf en gelees deur Latan Roland Murphy.

Dis ‘n pragtige boek van elf dapper vrou in die Bybel, onder andere Debora, Abigail, Batseba, Maria, Jogebed, en meer. Elke hoofstuk beskryf die profiel van een van hierdie bybelse vroue; en dit vat jou nie net op ‘n reistog van geloof en dapperheid nie, dit leer jou ook hoe om dit toe te pas in jou eie lewe. En dit is vir my fenominaal van hierdie boek: ongeag die persoonlikheidsprofiele van die verskillende vroue, elkeen het ‘n les waaruit mens kan leer en die bybelse waarhede kan maklik deur jou eie situasies weef.

Net vir interessantheid, die woord “dapper” word gedefinieer as volg:

The ability to do something that frightens one

Strength in the face of pain or grief

Sinonieme daarvoor is: vreesloosheid, moed, stoerheid, durf, waagmoed, waaghalsig, vermetelheid, knars, heldhaftigheid

Regdeur ons lewens (sonder dat ons dit altyd besef), word ons opgeroep om dapperheid te toon; en dis glad nie maklik nie. Om die waarheid te sê, dis gewoonlik die tye wat vir ons die swaarste en hardste en moeilikste is; maar – en hier is waar die uitnemendheid lê – as ons ons vertroue in God plaas, gee Hy ons die krag en die moed om staande te bly.

Elke hoofstuk eindig met ‘n “Courage Quest”. Dis ‘n lys van vrae wat jou help om dieper te delf in die lewens van die vroue en in die Skrif. En alles is toepaslik, jy moet dit net jou eie maak.

Beslis ‘n boek wat ek sal aanbeveel. Dit bly beslis in my biblioteek vir toekomstige verwysing!

Boekgroete

Xxx

Advertisements

‘n Honderd en tien dinge om voor dankbaar te wees

Een van die dinge wat my grensloos irriteer is mense wat heeldag loop en kla oor alles en met niks tevrede is nie. Hulle sien niks positief in ‘n dag nie en is totaal negatief oor alles of hulle het elke dag ‘n ander pyn en kwaal. Hier by ons is so ‘n vrou. Dis pynlik om na haar te luister; sy klink soos ‘n plaat wat vashaak. ‘n Druppende kraan. Sy is erg! Ek kon dit net vanoggend nie meer hou nie en voor ek myself kon keer, toe maak ek half verergd die opmerking dat daar 110 dinge is waarvoor mens elke dag kan dankbaar wees. Haar reaksie natuurlik: Soos wat?

Nou kyk, ek moes my torre mooi agtermekaar kry maar met behulp van my kollegas kon ek vir haar ‘n lys van ‘n honderd en tien redes gee.

Almal het hul eie besige lewens en ons vat selde die tyd om net vir ‘n oomblik stil te raak en te dink aan al die dinge waarvoor ons kan dankbaar wees….

1. Familie

2. Vriende

3. Gesondheid

4. Opvoeding

5. Die geleentheid om te kan leer

6. Kos op die tafel

7. ‘n Warm bad

8. Toegang tot die internet

9. Die vermoë om te kan werk en ‘n inkomste

10. Sonsopkomste en sonsondergange

11. Die vermoë om te kan droom

12. Die vermoë om te kan sien

13. ‘n Dak oor jou kop

14. Om met vakansie te kan gaan

15. Troeteldiere

16. Verrassings

17. Wanneer iemand vir jou glimlag

18. Reënboë

19. ‘n Tuisgemaakte ete

20. Goeie nuus

 

 

21. Sjokolade

22. Die feit dat elke dag ‘n nuwe begin is

23. Die vryheid om te kan stem

24. Die vryheid om te kan kerk toe gaan

25. Moderne medisyne

26. Moderne tegnologie

27. Koffie

28. Drukkies

29. Om te gaan stap

30. Kameras om mooi oomblikke af te neem

31. Die snooze knoppie op die alarm

32. As jy iets kry wat jy gedink het jy’t verloor

33. Stokperdjies en die vermoë om dit te kan beoefen

34. Om te kan dans

35. Jou gunsteling fliek of tydskrif of boek

36. Vars drinkwater

37. Om te kan lag

 

38. Om sonder fisiese pyn te kan leef

39. Lekker slaap soentjies

40. Jou verbeelding

41. Jou kreatiwiteit

42. Om te kan uitsien na iets

43. Slaap

44. Natuur

45. Elektrisiteit

46. Om doelwitte te kan stel en dit te behaal

47. Onvoorwaardelike liefde

48. Om af en toe goed teen spesiale pryse te kan koop

49. Om elke oggend wakker te word

50. Toegang tot medikasie

51. Om tyd vir jouself te hê

52. Mense wat vriendelik is

53. Die feit dat jy uniek is en dat daar niemand anders soos jy is nie

54. Om te leer uit jou foute

55. Naweke

56. Pay-days

57. Seisoene

58. Die vermoë om in kleur te kan sien

59. Wonderlike kollegas

60. Diversiteit

61. Christelike tradisies soos kersfees en paasfees

62. Goeie bure

63. Die onskuld en eerlikheid van ins kinders

64. Om ‘n toekoms saam met iemand te bou

65. Om te kan bid

66. En diep betekenisvolle gesprekke tot in die vroeë oggendure te kan hê

67. Vergifnis

68. Spanwerk

69. Om na musiek te kan luister waarvan jy hou

 

 

 

 

 

70. Gemaklike klere

71. Mense wat die beste uit jou bring

72. Die vermoë om emosies te ervaar

73. Die vermoë om ‘n voertuig te kan bestuur

74. Nuwe vars beddegoed

75. Die vreugde van ‘n tuin en plante

76. Takeaways en restaurante

77. Om passies te hê

78. Transport / Vervoer elke dag werk en winkel toe

79. Ou foto’s

80. Laat slaap

81. Sondae. Rusdae

82. Slegte dae wat ons help om die goeies te waardeer

83. Die vermoë om mense te help

84. Om jammer te kan sê

85. Om oopkop te wees

86. Krag en sterkte vir elke dag

87. Ander mense se goedhartigheid

88. Respek

89. Om erkenning te kry vir jou werk

90. ‘n Hart wat die bloed deur jou are pomp en jou die vermoë gee om te kan voel

91. Longe wat jou help om asem te haal

92. ‘n Immuunsisteem wat jou liggaam teen kieme en siektes beskerm

93. Trane wat jou siel skoon was

94. Teleurstelling, sodat jy kan weet wat regtig saakmaak

95. Pyn en vrese, sodat jy ‘n sterker mens kan word

96. Die son wat elke dag op ons skyn

97. Blogs wat ons met ander skrywers verbind

98. ‘n Bed om in te slaap

99. Sielsgenote

100. Vyande wat jou help om ‘n beter mens te wees

101. Liefde

102. Uitdagings wat jou help om te groei

103. Lewe – vir alles wat jy kan ervaar

104. JY – vir wie jy is en wat jy beteken

105. Om nie hoef te wonder waar jou volgende bord kos vandaan gaan kom nie

106. Dat jy jou rekeninge die maand kan betaal

107. Die vermoë om tussen reg en verkeerd te kan onderskei

108. ‘n Tuiste waarheen jy elke dag kan gaan

109. Die vermoë om na joiself en na ander te kan kyk

110. Bo alles, God se genade wat jou dag na dra

Die doel in doelwitte

Dis al amper einde Junie en ek wonder hoe ver trek mense met hul nuwejaarsvoornemens. Nie ek nie, ek doen nie sulke goed nie. Ek hou nooit daarby nie want die lewe verander te veel en te vinnig. So ek is een van die twee ekstreme as dit by doelwitte kom. Ek is een van diegene wat meestal verkies om nie groot doelwitte of planne te hê nie. Ek het, maar dis met uitsondering. Ek mik na niks, en tog behaal ek ook resultate soos enige ander meer doelgerigte mens in die lewe. Maar ek is meer die “let go and let God” tipe; en minder die intellek.

Die ander ekstreem, natuurlik, is die persoon wat so rigied is in sy besluitneming dat daar geen ruimte is vir ander invloed of leiding nie.

So, wat is nou eintlik die regte manier, om doelwitte te hê, of glad nie? Want aan die een kant skryf Jakobus dat ons nie weet wat die dag van môre vir ons inhou en wat in ons lewe gaan gebeur nie; maar aan die ander kant skryf Salomo weer dat mense wat planne maak, ryk word. Nou hoe nou? Die twee staan in kontras met mekaar; een impliseer om planne te maak is eintlik ‘n mors van tyd, en die ander een sê, gaan vir goud!

Tog sien ons regdeur die Bybel voorbeelde van hoe God sy mense gelei het in hulle besluitnemings. Hy was deel van die proses: van die beplanning tot die uitvoer van planne. Jona wat moes Nineve toe gaan maar aanvanklik nie daar uitgekom het nie. God het sy plannetjies sommer vinnig kortgeknip! Paulus wou gaan evangeliseer en gaan kerke plant, en dinge het nie altyd uitgewerk soos hy beplan het nie. Sy sendingreis Asië toe het nie gerealiseer nie omdat die Heilige Gees hom verhinder het om daar te gaan preek. Die Skrif sê: “Die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie.” En dan weer kry ons vir Noag wat die lewens van sy familie en die diere in die ark van die vloed gered het. Lank vooruit beplan en stappe geneem om die Godgegewe doelwit te bereik. Josef wat vir Egipte en sy familie voorsiening getref het toe die hongersnood aangebreek het. Weereens, ‘n goeie intellek en goeie beplanning. Nehemia het vir die Israeliete van sekuriteit voorsien deur die muur rondom Jerusalem te herbou. Beplanning en doelwitte. Godgegewe, Godgesentreerd, deur God beïnvloed.

Dit sê vir my dat, wanneer ons planne en doelwitte het – nog voordat ons behoorlik daaraan dink – moet ons dit in lyn met God se wil kry. Ek dink nie Jakobus het bedoel dat ons glad nie mag doelwitte hê nie. Ek dink wat hy probeer sê is, ja, stel julle doelwitte en maak julle planne; maar moenie so onlosmaaklik rigied daarin vas wees nie. “Nee, julle moet sê: “As die Here wil hê dat dit moet gebeur, dan sal ons lewe en dan sal ons hierdie dinge doen” (Jak. 4:15). En hierin lê die balans. Al het Paulus doelwitte gehad, selfs Godgesentreerde doelwitte, was hy sensitief vir die leiding van die Heilige Gees. Hy het toegelaat dat die Here sy planne bestuur en verander soos Hy goeddink.

Dit is nou maar eenmaal so dat dinge vir ons ten goede sal uitwerk wanneer ons ons planne en ambisies en agendas vir God gee sodat Hy dit in lyn met Sy wil kan bring. Hy weet wat vir ons die beste is en Hy wil vir ons die beste hê. Hy begeer dat dit met ons goed gaan en nie sleg nie (Jer. 29:11); en ek praat nie hier noodwendig van sendingreise en kerke plant nie. Ek praat spesifiek uit die staanspoor van ‘n doodnormale, alledaagse lewe. Ons moet leer om God volkome te vertrou met al ons planne en doelwitte, en toelaat dat Hy ons sal lei en in Sy besluite gegrond sal hou.

Mag Hy vir ons die regte insigte gee wat ons elke dag nodig het.

Xxx

Lae Kalorie Warm Sjokolade Poeding

Vandag maak ek lae kalorie warm sjokolade poeding. Elke naweek is sjokolade-iets naweek; en nee, dit vertroebel nie die gesonde oordeel nie!

Ek pas resepte aan volgens my smaak en gesondheidsbehoeftes, veral nóú – ‘n paar maande nadat ek ophou rook het en bietjie uitgestoel het. *Sug*. Ja, dit is so dat ‘n mens gewig aansit as jy ophou rook. Nie soseer omdat jy meer eet nie, maar omdat die liggaam se metabolisme radikaal verlaag. Amper tot stilstand kom. In kort, as jy rook, verbrand jy kilojoules. As jy ophou rook, geen. Fshhhhhhhhhhhhjjp! sit jy uit. So ek is relatief versigtig wat ek deesdae eet en omdat ek boonop sensitief is vir gluten ook én met ‘n beneukte dikderm sit.

So die resep wat ek gebruik vir die poeding is die moeite werd. Dit is eenvoudig en dit maak sy eie sjokolade sous ontploffing in die binnekant terwyl dit bak. Heerlik saam met vanielje roomys of warm vla!

Bestanddele:

Halwe koppie koekmeel

Halwe koppie maizena (maizena is glutenvry)

‘n Derde koppie strooisuiker

2 Eetlepels kakaopoeier

Halwe koppie laevet of vetvrye melk. Ek het sommer volroom gebruik!

50 ml olyfolie

1 eier

Metode:

Verhit oond tot 180 grade C. Smeer ‘n poedingbak goed of cook & spray dit.

In ‘n mengbak, meng meel en maizena, strooisuiker, kakao. Maak holte in middel, gooi eier, melk en olyfolie in. Meng tot glad. Gooi in poedingbak. Moet nog nie in oond sit nie.

Meng eers 2 eetlepels kakao en 4 eetlepels bruin suiker, sprinkel eweredig oor die poeding; en gooi dan een en ‘n halwe koppie kookwater versigtig oor.

Sit dan in die oond vir so 20-25 minute.

Bak en geniet!

Xxx

Box of Butterflies

Die eerste audioboek wat ek gekoop en geluister het, was van Roma Downey wat meer bekend staan as Monica, die geliefde engel van die TV reeks, Touched by an Angel. Sy het hierdie amazing boek geskryf, Box of Butterflies.

Sedert haar kinderdae het Roma skoenlappers beskou as ‘n besonderse herinnering aan haar ma wat vroeg in haar jong lewe oorlede is, en ook aan God se teenwoordigheid regdeur haar lewe. Veral in oomblikke wanneer sy bemoediging nodig gehad het dat sy nooit alleen is nie.

Hierdie is ‘n diep persoonlike boek waarin Roma stories uit haar lewe deel; en wat dit so spesiaal maak is dat sy regdeur die boek melding maak van teksverse, gedigte, aanhalings, ensovoorts wat vir haar spesiaal is en wat sy graag met die lesers wil deel in die hoop dat dit hulle ook sal bemoedig.

Ek is bly ek kon eerder na die boek geluister het. Ek dink nie as ek dit gelees het sou dit dieselfde effek gehad het nie. Ek het sommer my boek op Google Play gekoop en op my selfoon afgelaai, en elke oggend op die 28 km pad oppad werk toe, het ek geluister hoe sy haar boek met oortuiging en integriteit voorlees. Soms het ek my grimering afgetjank nog voor ek by die werk gekom het!

Soos die TV reeks, handel die boek se sentrale tema oor God: dat daar wel ‘n God is, dat Hy jou liefhet, en dat Hy selfs in jou moeilikste tye by jou is. Dat jy met tye alleen gaan voel, maar dat jy in werklikheid nooit alleen is nie. Die skoenlapper tema herinner die leser dat die wonder van God se liefde en goedheid soms in die sagte fluisteringe van die natuur gevind kan word; en dat elkeen van ons oor die potensiaal beskik om te verander.

Wat die boek vir my persoonlik beteken het

Wat ek van hierdie boek gehou het, is dat dit van een hoofstuk na die volgende vloei. Die storie agter die storie is so geweldig inspirerend dat dit gevoel het ek kon net op ‘n plek gaan sit het, my oë toe kon maak, en luister en luister en inneem…. Die boodskap wat deur haar storie filter is die blye boodskap van God en hoe betrokke Hy eintlik in ons lewens is, sonder dat ons noodwendig daarvan bewus is. Ek het in die besonder aan my dogters gedink, hoe Hy ook in hulle lewens betrokke is en dat alles – met en deur ‘n proses – in Sy perfekte wil en in Sy perfekte tyd gebeur en ontvou.

Box of Butterflies het my ook opnuut bewus gemaak van die onverwagte, onsigbare seëninge reg rondom ons. Elke dag. Selfs as ons nie vra nie, is Hy altyd getrou en op tyd. Ons is geseënd met alles wat ons nodig het; en partykeer stuur God vir ons kosbare lesse en boodskappe op die mees onverwagte wyses denkbaar. Ons moet net bereid wees om te luister, te sien, te leer, en te groei.

Watter boek wat jy gelees het het jou uit jou sokkies gebless?

Xxx

Waarop ons minder trots kan wees….

Die Here het ‘n sin vir humor, en eerbaar daarby om die minste daarvan te sê. Gister het ek gedink aan dinge waarop ek kan trots wees. Vanoggend in my stiltetyd, toe word ek teruggebring aarde toe met die dinge waarop ek nie so trots kan voel nie; en dis toe ek Filippense 4:8-9 lees in die Afrikaanse Bybelvertaling vir Almal (ABA): Dink aan alles wat mooi is en waarop jy kan trots wees.

Dink deurentyd die soort gedagtes waarop jy kan trots wees? Ja. “Center your mind on them [thoughts that are authentic and real, honorable and admirable, beautiful and respectful, pure and holy, merciful and kind], and implant them in your heart. Practice them in your daily life.” (Amp.)

Doen ons dit in die praktyk? Ongelukkig nie. Inteendeel, ek dink meeste van die tyd is die toestand van ons gedagtewêrelde glad nie so bewonderingswaardig soos ons goue lysies van trots nie!

Sien, ons kan uiterlik dinge doen waarop ons kan trots wees; waarop ander mense kan trots wees. Maar wanneer dit by die gedagte-wêreld kom waar niemand kan sien nie, dan verander die storie.

So wat sê ons nou, nog steeds breëbors? Ek dink nie so nie.

Wat egter diep uit ‘n mens se hart kom, maak die verskil en kan maak dat God niks daarvan hou nie. Want dit is van binne af, uit wat ‘n mens begeer, dat vuil gedagtes groei, soos om ander se goed te vat of jou seksueel sleg te gedra…. dinge soos moord, om ontrou te wees in die huwelik, om meer te begeer as wat jy het, om mense kwaad te wil aandoen en allerhande skelmstreke te beplan, om nie om te gee wat jy doen nie, of dit nou reg of verkeerd is, om jaloers te wees op ander mense, om lelik met en van ander mense te praat, om te veel van jouself te dink en nie jou plek te ken nie en sommer net ligsinnig te wees. Al hierdie dinge kom uit die binnekant van die mens – dit is dinge waarvan God nie hou nie en dit maak mense voor Hom onrein en onaanvaarbaar. Mark 7:20-23, DB

Dit som alles op, wat Jesus hierbo sê. Ons gedagtewêreld vorm die basis van van ons dade en woorde. Dit vorm ‘n groot deel van wie ons is, hoe en wat ons dink, hoe ons optree. Daarom is dit so belangrik vir ons om ‘Bybels’ oor alles te dink. En hoe is ‘Bybels’? Want sekerlik het ons ‘n stryd wat ons in ons gedagtes moet voer. Op een of ander wyse moet ons ons koppe regkry as ons op goeie voet met God wil bly. Maar hóé? Hoe weerstaan ek die slegte goed wat in my kop broei, wat ‘n impak op my daaglikse lewe het en my gedrag beïnvloed?

Dis eintlik heel eenvoudig en dis die wonderlike daarvan. Paulus sê eenvoudig, Vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is (NLV). Met ander woorde, dink aan dit wat saakmaak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink (dit sal WOW wees!) en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Kort en kragtig: Moenie jou tyd mors om aan allerhande nuttelose te sit en dink nie. Hou jouself besig met dinge wat die moeite werd is en wat saakmaak, dan sal jy nie sit en crap uitdink nie.

My uitkyk oor die hele storie van “trots wees op jouself” het ietwat versag na hierdie reality check. God het altyd maniere om ‘n mens gegrond te hou.

Xxx

Deel saam: Lig jou vibrasie!! Waarop is jy trots vandag?

Deel asseblief saam met my op hierdie onderwerp. Dis altyd lekker om saam te kan gesels. Vandag dink ek aan redes hoekom ek trots is op myself; en redes hoekom ons maar trots mag wees op onsself want party van ons kan tog so hard wees op onsself!! Ons spandeer so baie tyd om te dink oor die dinge wat ons verkeerd gedoen het en die foute wat ons gemaak het en die dinge waarmee ons sukkel. In ‘n perfekte wêreld sal ons nooit hoef fout te vind met ons imperfeksies nie. Maar ons lewe nie in ‘n perfekte wêreld nie en ten spyte van al ons imperfeksies, is daar tog so baie redes waarom ons kan TROTS wees op onsself, net soos ons is.

So, hier is my redes hoekom ek trots is op myself vandag:

Ek het tot dusver alles oorleef wat die lewe na my kant toe gegooi het; en party van dit was regtig egtig bitter moeilik gewees!! What doesn’t kill you, makes you stronger.

Ek het baie lewenslesse geleer; veral uit my foute. En ek doen soveel beter vandag as gevolg daarvan!

Maar ek het nie net kosbare lewenslesse geleer nie; ek leer nou ook verder in my werk en ek het al een kwalifikasie agter my naam. Nog twee weke dan is ek klaar met ‘n kursus by die Universiteit van Kaapstad. Ek vorder!

Ek help graag ander mense en ek hou daarvan om mense te laat glimlag en te inspireer.

Ek is dankbaar vir die uniekheid waarmee ek geskape is; vir die talente en gawes waarmee ek geseën is en waarmee ek ‘n aanwins kan wees en ‘n verskil kan maak.

Ek het goeie dinge in my lewe bereik en die beste daarvan was om ‘n MA te kon wees. Ek is ‘n goeie Ma. You can be a mess and still be a good mom. We are allowed to be both.

So, die volgende keer wanneer ons in sak en as sit of wanneer ander mense ons kritiseer (of onsself), kan ons ‘n oomblik vat om al die redes te onthou hoekom ons kan trots wees op onsself en hoekom ons liefde en respek verdien. Leer om jouself op te bou, veral met die klippe waarmee ander jou gooi. Gebruik dit as boustene om jouself te herinner dat, as dit al is waaruit jou lewe bestaan: dat jy jouself en jou lewe bymekaar probeer hou, is dit iets om op trots te wees.

Ek is trots op jou!!

xxx