Nog ‘n blom!

DSC_0016

Groot was my opgewondenheid toe ek vanmiddag by die huis kom en ek sien die rooi bloeisels aan die vetplant. Ek LOVE rooi!! Vergete is die dag se dinge en terwyl ek na die rooi bloeisels kyk onthou ek skielik van iets wat ek die naweek raakgelees het:

Liefde is soos ‘n bloeisel wat blom wanneer die toestande gunstig is. Mens kan nie ‘n blom oop forseer sonder om dit seer te maak nie. So ook nie ‘n hart nie.

Xxx

Advertisements

Dis nou of nooit

Vandag het die werk ‘n bom laat val dat die begroting vir my pos goedgekeur is vir ‘n permanente pos. Die pos is in Aug 2016 geskep as ‘n fixed term contract en ek was bevoorreg om die pos as ‘n tydelike werker te beklee, ek kon alles leer wat ek moes en ek kon ook my stempel afdruk en ‘n verskil maak. My departement worstel al vir ‘n geruime tyd om die pos permanent te maak so dit is goeie nuus dat dit wel uiteindelik goedgekeur is…. Die probleem is egter dat dit intern geadverteer gaan word so ek moet nou oor aansoek doen en weer vir ‘n onderhoud gaan. Ek staan ‘n kans so goed soos enige iemand anders, daar is geen waarborg dat ek hierdie keer suksesvol gaan wees nie. So ek is nogal benoud want daar is ‘n paar dinge wat teen my tel, onder andere my velkleur. Hierdie is maar een van talle polities-georiënteerde organisasies….

Onsekerheid is ‘n aaklige ding en ek is seker dat dit meeste van die tyd ongegrond is. Vir my voel dit of my werk skielik in gevaar is. Mens weet nooit het jy rede om bekommerd te wees nie.

Ek reken dis nou die regte tyd om van my hoë perdjie af te klim en uit my gemaksone wakker te skrik. Weet, ‘n mens kan sooooo gou té selfversekerd, selfvoldaan en verwaand raak, en so sus jy jouself vas aan die slaap. Hierdie was ‘n wake up call dat ek niks is en niks kan doen sonder die Here nie. As dit Sy wil is dat ek hier bly, dan glo en vertrou ek dat Hy my werk veilig sal hou. As Hy egter ander planne vir my het, dan bid ek dat Hy vir my daardie deur sal oopmaak en my gereed sal maak om daardeur te loop.

Wanneer laas het jy vertrou dat alles sal uitwerk volgens Sy doel en plan vir jou lewe?

Xxx

 

Phalaenopsis – vir my dogters

Blomme is eintlik so eenvoudig, maar hulle kan soveel vreugde besorg. My blomme laat my altyd beter en gelukkiger voel; hulle is die sonskyn, voedsel, en medisyne van my siel.

Ek het onlangs ‘n Phalaenopsis plant persent gekry. Met die eerste oogopslag het hierdie plant soveel herinneringe teruggebring aan vroeër jare toe my dogters nog in die huis was. Ek was gevul met heimwee, maar tegelykertyd ook met bewondering. Ek het gegaan en intensiewe navorsing gaan doen rondom die Phalaenopsis. As ek maar daai tyd die moeite gedoen het….

Anike was nog op laerskool toe sy eendag vir my vertel het van die Phalaenopsis blom. Sy was mal daaroor en wou ook graag een gehad het. So het ek ‘n paar plante gekoop en in amper elke vertrek een gesit. Die probleem was egter, ek kon dit nooit aan die lewe hou nie. Dit het bly doodgaan. Dan koop ek maar weer, en na ‘n ruk dan dooi dit weer. (Ek kon dan nie eers die goudvis aan die lewe hou nie, dié moes ek ook maar noodgedwonge in die toilet afspoel!)

Niks wou by my aan die lewe bly nie, so ek het na my dogters weg is, nog nie weer ‘n plant of dier aangeskaf nie. Tot onlangs. Terloops, ek weet nóú hoekom die plante (en die goudvis) dit nie gemaak het nie. Hulle was oorvoed, verkeerd versorg, en die toestande was nie vir hulle gunstig nie. Soos met my dogters, was ek hopeloos onkundig.

Ek het uitgevind dat die Phalaenopsis eintlik van die orgidee spesies is en oorspronklik van die tropiese dele van Asië afkomstig is; en dat dit ‘n baie belonende plant kan wees onder die regte groeitoestande. Nie veeleisend nie, hulle vereis bloot net die regte balans tussen humiditeit, temperatuur, water, lig, en beweging van lug. Het jy geweet dat daar sowat 60 van die Phalaenopsis orgidee spesies aangeteken is, maar wat al so breedvoerig gehybridiseerd (kruis-bestuif) is dat daar letterlik duisende soorte Phalaenopsis plante wêreldwyd is? ‘n Mens is nooit te oud om te leer nie!

So, hier is my Phalaenopsis, en soos my dogters is daar ‘n soort mistiek rondom hulle wat hulle uitsonder van ander. Hulle is elegant, uniek, en maklik om te versorg.

Ek hoop om hierdie keer ‘n pad te stap met die blom…. ter herinnering aan my pragtige blomme-dogters.

xxx

O, die liewe geduld!

GEDULD. Nie een van my sterk punte nie. As jy in ‘n plek soos Postmasburg bly, moet jy baie geduld hê. Dis asof mense hier aan vertraagde reaksie ly. Veral die besighede. Mense is traag om jou te help. Party is sommer net moedswillig omdat jy blank is. Ek vat my kar in vir ‘n was. Tweede op die lys, dit behoort so ‘n uur, uur en ‘n half op die langste, te vat. Ek gaan eet solank ontbyt by Spur, maak ‘n draai by Jet en Shoprite, gee hulle genoeg tyd om klaar te maak. Wragtig, hulle druk 9 voertuie voor myne in! Ek het dit heeltemal verloor. Kry my geld terug en ry na die ander karwas toe. Vandag werk daar net drie mense in plaas van die 7 wat altyd hier is. Hier staan 3 karre, myne in die wash bay. ‘n Halfuur later besef die een hy moet nou seker myne ook begin was…. en hy was so laaaaaaaaank!! Dan eers na die dry bay toe vir binne se skoonmaak. Intussentyd voel dit vir my ek kan ‘n dosyn eiers in my alie gaarmaak! My hele dag is in sy glory in en ek is so geïrriteerd ek kan ‘n ystervark heel insluk. Kry net flippen lewe en maak klaar!!

Ek het nie tyd vir hierdie mentaliteit wat mense het en dink hulle hoef die minimum te doen, maar die wêreld skuld hulle alles nie. Hierdie slagoffer-mentaliteit en “ek is geregtig op….”-mentaliteit. Roer jou agterstewe, man, doen jou werk en maak iets van jouself soos die res van ons.

G’n wonder ek ontwikkel al hoe meer die neiging om net elke dag ‘n paar mense te verwurg nie!

Nie baie voorbeeldig van my nie, né.