‘n Kat sonder naam

Ek weet nie of ek al voorheen genoem dat ons so 9 maande gelede na ‘n groter meenthuis toe getrek het nie? Dis ‘n baie ruim plek in vergelyking met waar ons eers was. 100% verbetering! En die lekkerste is: dit sit op die hoek, reg langs die kerk waar ek Sondae orrel speel, en aan die anderkant die ouetehuis. Stapafstand van Ouma af. Hoe gelukkig kan mens wees!

Nie lank nadat ons ingetrek het nie, het daar ‘n verwaarloosde en verhongerde kat by ons opgedaag. Ek was aanvanklik nie baie gretig om haar daar te hê nie, maar ek het my goeie plig gedoen om elke dag vir haar kos uit te sit. Nodeloos om te sê dit het haar nie lank gevat om deel van die huishouding te word nie.

Daar is nogal wetenskaplike voordele om ‘n troeteldier eienaar te wees; en een van dié wat vir my uitstaan is dat troeteldiere bekend is daarvoor om mense te help om deur verlies te werk, en om minder fisiese simptome van pyn te beleef. En dit is so, my kat is absoluut ‘n wonderlike steunpilaar deur moeilike tye. Honde doen dieselfde ook, as ek terugdink aan my dogter se bokser hond wat agtergebly het nadat sy weg is; hoe ek en Xenia ge’bond’ het, en hoe sy my ma emosioneel ondersteun het. Maar na haar dood het ek nie weer kans gesien vir ‘n troeteldier nie. Ek doen nie goed met verlies nie…. en tog, hier sit ek nou met die kat sonder ‘n naam, en ek kan nie my huis sonder haar voorstel nie. Sy het alles: liefde, erkentlikheid, ure van eindelose slaap, en geselskap wanneer sy dit nodig het.

Advertisements

En toe ontdek ek Mamma-Luv

My nuwe blognaam en adres. Iets wat ek die afgelope paar jaar sterk aan die hart gevoel het, maar nie moed gehad het om op te diep en die hand op te lê nie. Dit gaan maar oor die oneer en skaamte van die saak; die emosionele ondraaglikheid en die stigmas daaraan verbonde. Ek wou nooit rêrig daaroor gepraat het nie, juis omdat dit ‘n vreugdelose en moedverlore affêre is; maar ná die terugslag in 2018, het ek besluit om hierdie jaar – ten spyte van liggaamlike en geestelike ongesteldheid – ‘n meesterlike jaar maak.

So het my jongste ook gematrikuleer en ek verneem dat sy ook oppad is na die buiteland. Ousus is ook daar; en in my geestesoog sien ek die wêreld om hulle bedek onder ‘n sagte sneeukombers. Weg is die modderspore en kronkelpaaie wat na nêrens lei…. Weggevee die deurkliefde groewe van hoekoms en waaroms en ‘wat as’. En op hierdie witskoon, skilderagtige landskap, die tekens van voetpaaie wat hulle vir hulself gaan oopkap. ‘n Vars begin. En ek weet in my hart hulle is gereed.

Ek ook.

Die briefies wat my dogters vir my geskryf het toe hulle jonger en nog by my was, lees ek baie maal oor en oor en ek besef net, hey, ek IS ‘n Mamma en daar was ‘n tyd toe ek en my dogters baie ná aan mekaar was; ‘n tyd toe hulle vir my ook lief was en ek die beste Mamma in hulle wêreld was. Dis deel van my lewe wat niks en niemand kan wegvee nie, so ja, ek is Mamma-luv. I am loved! Ek het nog ‘n jaar en nog ‘n Kersfees deurgeworstel en oorleef. Dis elke jaar ‘n steil opdraande, maar ‘n mens leer, wanneer jy eventueel bo uitkom, om die uitsig na die anderkant toe te waardeer.

Soms is dit goed om verwagtinge te laat vaar. En skuldgevoelens. Ek kon dalk probeer het om meer gereeld uit te reik, maar ek het darem probeer. Op my manier, en in my onkunde. Ek los gelukwensings vir hul verjaarsdae op my blog. Tog elke keer wat ek op een of ander manier kommunikeer, kry ek slae – en dit maak seer. But love knows what to do. Dis beter om die twis te laat vaar, en die siel te behou.

‘n Ma wéét. Haar liefde is geduldig.

Xxx

Ek begin eerder die jaar met vrae, en nie resolusies nie

Party mense vaar goed met nuwejaarsresolusies, ander nie. Ek is een van hulle; en ek sit al so lank met onbeantwoorde vrae wat net nooit tot uitsluitsel kom nie. Watter mens het nie vrae nie. David Whyte het gesê:

“The marvelous thing about a good question is that it shapes our identity as much by the asking as it does by the answering.”

So, hierdie jaar begin ek nie met besluite, resolusies, oplossings, beloftes, nuwe beginne, skoon bladsye, diete, oefenprogramme, en lewensveranderinge nie. Ek begin met vrae…. Wat as ek dit doen, en wat as ek nie? Wat as ek ja sê, of nee? Hoe sal dinge uitwerk as ek terughou, of alles gee? Hoe sal dit uitwerk as ek iets nuuts aanpak? Wat as dinge die jaar verander? Of wat as dit dieselfde bly?

Nietemin, hierdie gaan ‘n jaar wees van nog vrae; maar díé keer gaan ek baie meer ruimte gee daarvoor; en ek gaan vrede maak met die vrae wat vir so lank al aan my hartsnare roer vir aandag, wat gehoor wil word, beantwoord wil word, en verstaan wil word.

Ons spandeer soveel tyd en moeite om ons ou besluite te beskerm. Ons ploeg ons hakke ferm in die grond vir ou doelwitte wat nog steeds vasgeknoop is aan die ou moese en konne en wat asse…. Moese en konne en wat asse wat dalk glad nie meer aan ons behoort nie; of ou doelwitte wat nooit opgedateer of oordink is nie. Ons beskerm daardie doelwitte en besluite so verwoedelik…. En eintlik is dit desperaat vir nuwe vrae en opsies.

So, ek begin die jaar met vrae. En saam met die vrae kom daar emosies op soos ‘n bietjie vrees en ‘n angstigheidjie, of opgewondenheid, moed en hoop, of selfs ‘n gevoel van dinge wat stadig maar seker begin beweeg; iets binne-in jou wat wakker word. Dis eintlik baie moeilik om saam met vrae te leef sonder om te voel jy word ‘n bietjie gestrek van moontlike groei wat plaasvind. En dan moet ‘n mens nie nie vir antwoorde gaan soek nie. Nog nie. Al die vrae en gevoelens en moontlikhede moet maar soos ‘n ratel in ons binneste skud en raas, maar laat dit oor ons spoel, en langs ons wandel, en rus vind in ons siele, en aan die voete van Jesus. Laat dit groei, soos ‘n saadjie; en rank tot in elke deel van ons menswees wat verbind is met ons waardes en oortuigings; tot in die dele van onsself wat moeg en vergete geraak het. Laat elke vraag wat al so lank wag om gehoor te word, ‘n stem ontwikkel…. Jou eie stem, nie die stem van ander nie.

Díé jaar gaan ek my vrae lééf. En dalk begin ek in die antwoorde ook leef. Wetend of onwetend. Twee boeke waarmee ek die jaar gaan begin is Year of Yes: How to Dance it Out, Stand in the Sun and Be Your Own Person, van Shonda Rhimes; en Journey Through Trauma van Gretchen Schmelzer.

Wat is jou vrae?

Nog ‘n Grondpad-jaar

Ongeveer ses maande gelede het ek die pen neergesit en weggetree. Eintlik was dit my gesondheid wat my genoodsaak het om ‘n breek te vat; want skielik het dit op alle denkbare vlakke ‘n knou gekry en eenvoudig begin agteruit gaan. Die stryd is nie net meer emosioneel nie, dit het sielkundig en fisies ook geraak. Dominee het gisteroggend in sy preek genoem dat ons ons sorge, moeite en verdriet in ons liggame ook dra; tot so ‘n mate dat dit ons uiteindelik totaal ruïneer. Soos die ou spreekwoord sê, dis die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.

Dit was vir my geweldig moeilik, want as ek nie elke dag skryf nie dan verloor ek mos my kreatiewe mojo, of hoe? Dis tog wat meeste skrywers en kenners sê. Maar is dit gesonde raad, en geld dit vir almal??

Later daaroor (ek herkou nog hieraan….)

So, ten spyte van die gesondheid wat agteruit gegaan het, het die Here darem ook gesorg vir klein genadetjies (wat eintlik onbeskryflik groot is as ek daaraan dink). Daai regte goete wat op die regte tyd uit Sy hand kom; juis wanneer ons dit die nodigste het. Dinge wat help om die stres en die swarigheid en die hartseer van die lewe ‘n bietjie te verlig.

As ek terugkyk op 2018, dan was dit ‘n jaar wat ek nie wil oorhê nie. Ek onthou hoe ek slaggereed was om elke dag by die kraag aan te pak. Ek was eintlik heel oraait hoor, ek het alles onder beheer gehad. Of so het ek gedink. Tot ek een oggend opgestaan en besef, my fasade het verkrummel, ek is besig om onder te gaan.

Dit gebeur so dat, wanneer ons in die proses is om deur iets in ons lewens te werk en dit raak te moeilik of ondraaglik, dan gooi ons onsself totaal oor na ‘n ander aspek van ons lewens. In my geval, die werk. Maar ons vergeet om na die belangrikste aspek om te sien: onsself. Ek sien dit só. Wanneer ons selfone pap is dan prop ons dit vinnig by ‘n laaier in; maar wanneer ons krag min en ons lewensmoeg is, laat ons na om ook iewers te gaan inprop en te herlaai. Tot dit te laat is.

En hier staan ons aan die begin van nog ‘n grondpad-jaar waar ons dae gaan hê met mooi uitsigte, en dae wat ons weer kaalvoet oor die klippe gaan moet loop. Dae wanneer ons op ons knieë gaan neerval omdat ons nie kans sien vir die dag van môre nie…. En dae wanneer ons gaan rustig loop sonder dat ons hoef om te kyk of terug te draai. Dae van blomme pluk, en dae van dorings wat gaan steek.

Hoe jou jaar ookal vandag eindig, bid ek dat dit in 2019 vir jou oorvloedig sal reën waar jy ploeg, en dat jy elke seisoen méér sal hê as genoeg.

Voorspoedige nuwe jaar!!

Andorize xxx

Wat pla?

Dis ‘n baie revolusionêre vraag om te vra. Want my instink is om nie gepla te wees nie. Ek hou nie daarvan nie. Ek is eerder min gespin. En om iemand anders te vra wat pla gee geleentheid vir die persoon om te kla. Wat ek ook nie van hou nie.

Maar wat as ons dieper begin kyk? In plaas van om die vrede te bewaar deur ons frustrasies en irritasies eenkant toe te skuif, moet ons nie eerder leer om eerlik stil te raak en te dink oor die dinge wat ons pla nie? Nie net bolangs nie, maar diep in ons binneste ook?

Soms is die waarhede wat ons ontdek lelik en ongemaklik, maar saam met dit is daar ook sprankies van hoop wat ons nie altyd besef ons eintlik nodig het nie.

Om te erken wat ons eintlik pla, help ons om ons diepste hartsverlange bloot te lê. En wanneer ons weet wat ons diepste hartsverlange is, sal ons lewens dalk meer begin sin maak.

Wat as ons onsself meer gereeld afvra, Wat pla jou? En wat as ons dit meer gereeld vir mekaar vra?

Xxx

Sondag Refleksie

Ek mag dalk nie verstaan hoe dinge gaan uitwerk nie; ek sien dalk nie die pad duidelik vorentoe nie, maar ek vertrou dat die Vader van beter weet en ek glo dat, op hierdie gegewe oomblik, is Hy besig om in lewens te werk, harte aan te raak, deure oop en toe te maak, die regte mense te gebruik, geleenthede…. Al lyk dit bleek en donker en onseker, ek móét glo dat die ligloosheid nie vir ewig sal duur nie. Dagbreek sal kom.

Xxx